Rekordhoogtes vir rand ná Zuma sperdatum kry om te bedank

finansies-geld-onder-die-vergrootglas

Foto: Stevebp/Pixabay.com

Die Suid-Afrikaanse rand het laat Woensdag tot 11.74 teen die Amerikaanse dollar verstewig – die sterkste sedert 2015, in die lig van ʼn sperdatum vir pres. Jacob Zuma om te bedank.

Die ANC het Woensdag ʼn ultimatum aan Zuma gestel om te bedank of om Donderdag ʼn mosie van wantroue in die parlement in die gesig te staar.

Die rand het teen middagete, toe die ANC se parlementêre koukus die mandaat ontvang het om Zuma uit te stem as hy nie bedank nie, skielik verstewig en 11.80 gehaal voor dit op 11.82 gestabiliseer het.

Die rand het later tot 11.90 teruggesak toe Zuma in ʼn regstreekse televisieonderhoud gesê het versoeke dat hy moet bedank, is onregverdig.

Die rand was twee en ʼn half jaar gelede sterker as 11.7975. Na verwagting sal vertroue in die mark ʼn hupstoot kry en die plaaslike geldeenheid verstewig indien Zuma sy amp verlaat en Ramaphosa, ʼn voormalige sakeman, die land se nuwe president word.

Die plaaslike geldeenheid het Dinsdag tot 11.99 gedaal terwyl die mark gewag het vir die uitslag van die ANC se vergadering oor Zuma se lot, voor dit later in die dag na 11.88 verstewig het ná die party gesê het die president word herroep.

Zuma, wat gebuk gaan onder bewerings van korrupsie sedert hy in 2009 aan bewind gekom het, is onder druk om te bedank voor die nasionale verkiesing in 2019.

Die rand het beduidend verstewig sedert die ANC in Desember Ramaphosa verkies het as leier van die party. Die geldeenheid was egter die afgelope paar weke wankelrig terwyl Zuma weerstand gebied het teen versoeke om te bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stormrider ·

Ek wil oorsese valuta koop vir ‘n opkomemde reis, maar ten spyte van die vreeslike verstewiging van die Rand blyk die prys van valuta by die banke nie te verminder nie.
Ek was onder die indruk dat die banke hulle pryse daagliks opwaarts/afwaarts aanpas in lyn met die versterking of verswakking van die Rand.
Kan iemand dalk in leke-taal vir my verduidelik waarom ek nie die verstewiging van ons geldeenheid op grond-vlak bespeur nie?

jaco ·

Wanneer Ramaphoza President is moet hy net 1 besigheid afvat as deel van sy radikale ekonomiese transformasie en net 1 wit plaas afvat as deel van sy radikale grondhervorming, dan verander die wisselkoers weer na R20 in 1 dollar.
Hy het lankal gesê dit gaan sy beleid wees, so ons is gewaarsku. Euforie oor Ramaphoza gaan baie vinnig verdwyn.

ChrisE ·

Stormrider, die banke in die land, is by my onder verdenking. Ek vertrou hulle geensins. Ek het my redes maar sal my weerhou van enige kommentaar want ek het gesien en aan my eie bas gevoel waartoe die geldpaleise in staat is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.