Rekordprys op jaarlikse brahmaan-veiling behaal

Hannes Liebenberg by die brahmaan-koei en kalf wat ʼn rekordprys tydens die nasionale brahmaan-veiling behaal het. Foto: Verskaf

Hannes Liebenberg by die brahmaan-koei en kalf wat ʼn rekordprys tydens die nasionale brahmaan-veiling behaal het. Foto: Verskaf

ʼn Indrukwekkende brahmaan-koei en haar besonderse kalf het die afgelope naweek ʼn rekordprys behaal tydens die nasionale brahmaan-veiling in Parys in die Vrystaat.

Die koei en kalf, geteel deur SHL Brahmane wat tussen Koster en Lichtenburg in die Noordwes geleë is, is vir ʼn allemintige R110 000 verkoop. Dit is R30 000 meer as die vorige rekordprys. Die bod vir hierdie koei en kalf is op Schalk Burger van Bronkhorstspruit toegeslaan.

Die veiling is voorafgegaan deur die jaarlikse nasionale brahmaan-skou wat ook in Parys gehou is. Daar het ʼn bul, wat ook afkomstig is van die SHL Brahmane-stoet, weggestap met die juniorkampioen-titel. Hannes Liebenberg, die eienaar van SHL Brahmane wat al sedert 1983 met dié diere boer, het aan Maroela Media gesê hoewel die koei van uitsonderlike genetika afkomstig is, is dit eintlik die kalf wat met sy besonderse bou koppe op die veiling laat draai het.

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

“Die koei is geteel uit saad wat ek vanaf die V8 Ranch Cattle Company in Texas in die VSA ingevoer het, so sy is uit topgenetika geteel. Maar die kalf wat sy geteel het, was net so uitsonderlik. Ek het nog nooit so ʼn kalf gesien nie. Baie mense op die veiling het vir my gesê ek was dom om die kalf te verkoop,” het hy laggend gesê.

“Mense betaal miskien groot geld vir hierdie diere, maar dit is op die ou end ʼn belegging. Ek sal nie verbaas wees as daardie bulkalfie oor vier of vyf jaar vir meer as R200 000 verkoop word nie.”

Liebenberg het bygevoeg dat hy baie tevrede is met die gemiddelde pryse wat op die veiling behaal is. “Almal is baie bekommerd oor die droogte en dit is ongetwyfeld ʼn feit dat dit ʼn baie negatiewe impak op die landboubedryf het. Baie van die ouens kry swaar en die uitwerking van die droogte verskil maar na gelang van waar in die land jy boer. Maar daar word steeds gehaltediere geteel en daar is nog ʼn kopersmark vir hierdie diere, so ek voel baie positief oor die bedryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Adri ·

Die gradering van beeste (en ander vee) interesseer my nogal baie. Omdat alle Brahmane bv. vir my eenders lyk, wens ek iemand wil vir ons beduie wat maak die kalf so besonders. Die boer sê hy het nog nooit so ‘n kalf gesien nie – ek het al baie sulkes gesien; of, so lyk dit vir my.

VerVanRyn ·

Ek wil ook weet wat is so uniek aan die kalf. Ek sien net steak en biltong

humor ·

Vir die kundige teler en boer lyk alle diere selfs in dieselfde ras beslis nie eenders nie. Dit is beslis ook nie geldwassery nie. Neem maar net kennis die jare lange insette en die opbou van n bepaalde genepoel.Hierdie is maar net die puntjie van die ysberg. Geluk met hierdie pragtige dier en ons vertrou dat sy verdere ontwikkeling in plek sal wees en dat daar nie die verlies van vrekte of diefstal sal wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.