Rekordpryse by spogwildveiling behaal

'n Aandeel van 25% in  die bekende buffelbul, Horison, is vir R44 miljoen verkoop. Foto: http://pietdutoit.co.za/

‘n Aandeel van 25% in die bekende buffelbul, Horison, is vir R44 miljoen verkoop. Foto: http://pietdutoit.co.za/

Eksotiese wild het Saterdagaand rekordpryse by die topwildboer Piet du Toit se jaarlikse veiling op sy plaas in Rustenburg behaal.

Die verkoop van ’n 25%-aandeel in die bekende buffelbul, Horison, was sekerlik die hoogtepunt vir die aand. Die aandeel is teen R44 miljoen aan die wildboer, Pieter Bellingham, verkoop.

Nog rekordpryse is betaal vir onder andere ʼn gouewildebeesbul wat teen R6 miljoen verkoop is, ʼn buffelkoei, dragtig van die buffelbul Matetsi, wat R19 miljoen behaal het en rooiribbokke wat teen R50 000 stuk verkoop is.

ʼn Besonderse rooibokram met horings van 27 en ses-agtstes duim het R1 miljoen op die veiling behaal.

Lood Bester, besturende direkteur van Wildswinkel, die organiseerder van die veiling, het gesê hy is tevrede met die veiling se omset van R231 miljoen. Du Toit se veiling het verlede jaar ʼn omset van R266 miljoen gehad.

“Die veiling was baie suksesvol en daar is talle rekordpryse behaal wat nog nooit voorheen gesien is nie. Ek dink die omset is relatief tot watter lotte op die veiling was,” het Bester gesê. “ʼn Mens sal naïef wees om te dink dat Suid-Afrika se swak ekonomie en die wêreldekonomie nie ook ʼn rol speel in die wildbedryf nie. Die droogte plaas beslis ook druk op boere.”

Volgens Bester het sowat 5 000 wildtelers, sakelui, sportsterre en ander belangstellendes die veiling bygewoon om op 116 lotte te bie. Diere van Du Toit, Stefan Naudé, Jaco Naudé, Beyers Gerber en enkele ander gasverkopers is opgeveil.

Du Toit, Stefan Naudé, Jaco Naudé en Gerber het ook ʼn swartrooibokram aan die veiling geskenk wat vir R800 000 opgeveil is. Hierdie geld word direk in ʼn hulpprojek vir boere gestort wat voer skenk aan boere oor die hele land wat erg deur die droogte geraak word.

“Ek dink dit is ʼn wonderlike gebaar van hierdie wildboere om so terug te gee aan boere wat swaar kry. Almal voel die droogte en daarom is dit wonderlik dat hulle op so ’n manier uitreik na die landbougemeenskap,” het Bester gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Bruno Stef ·

Ou Ramaphosa verneem ek ewenaar sulke pryse vir buffels met gemak net jammer hy kon nie teenwoordig wees nie om ons belasting geld te spandeer nie.Dit gaan alles darem vir n goeie doel om ons droogte geteisterde boere by te staan.

Charlotta ·

Die vier mans wat die swartrooibokram geskenk het, en die geld skenk vir die boere wat sukkel in die droogte, die Here seen julle.

pop ·

Nou is ek weer die dom een. Hoe koop mens n aandeel in n dier. Wat kry jy terug vir jou geld, of mag ek nou 25% van sy saad kry vir my koeie. Hoe werk dit?? En as die dier nou vrek of gestroop word deur honger mense, wat dan? Kan ek aandele van my hond verkoop ook???En asb mense< eks ernstig, kan iemand my antwoord en laat staan maar die sarkasme. As mens nie iets weet nie dan vra jy immers.

nic ·

Pop, Piet du Toit het vooraf gesé hy verwag dat daai buffel R1000 000 000 (Miljard) se kalwers sal kan voortplant…

Rachelle ·

Pop vir elke 10koeie wat hy dek is 2.5 joune. Hy mag 10 koeie by die bul sit en betaal R4000 per koei per maand vir voer ens. Ek was op die veiling.

Wouter ·

Ja Pop hulle kry aandele ook in die opbrengs wat die bul is sy lewe inbring. Die diere word vir baie geld verseker maw jou belegging is veilig. O ja en Cyril besit McDonald’s Africa hy het nie ons geld nodig om deel te neem nie. Hy betaal dit uit sy gatsak uit.

Gielie ·

Ek is nie ‘n siener, maar daar is iewers ‘n groot slang in die gras!!! As ons hierdie hemel hoë pryse gaan begin ondersoek glo ek gaan ons op meer as een blik vol wurms afkom!!

Jakes ·

Belaglik is nie ‘n woord nie , die wildboere mors met die wild, ek dink maar nou aan die geblikte leeus en die nuwe tendens om wild in troppe by sogenaamde jagter verby te jaag en hulle kan maar net lostrek en skiet en wond soos hulle wil teen nn masiewe bedrag. Ek wonder watter sogenaamde wild boer het die guts om te voet ‘n buffel te jag of leeus sonder die geluier van sy bakkie . Dis nou wild boere.

Vicus ·

Ek kan nie wag vir die dag dat die boom van hierdie sogenaamde eksotiese wildbedryf moet uitval nie. En daardie dag is nie meer ver nie. Hierdie manne is besig om die jagbedryf in Suid Afrika dood te maak. Dink n bietjie, n wit blesbom is die gevolg van n swak geen en nou word daar met hierdie swak gene geteel. Gaan lees gerus Gerrit Verdoorn se verslag oor hierdie euwel!

Johan Smit ·

Daar word gesê die ” dieoudste bul het die hardste horing” smaak my gesegde moet verander “langste horing is meeste geld werd”…lol

scalla ·

Baie geluk Piet met n puik veiling en diere van wereld klas gehalte, doen so voort.

neelsie ·

Waar le die lyn tussen genoeg en oorgenoeg?
Genoeg =dankbaarheid
Deel met ander as jy oorgenoeg het.

Leeutjie ·

Ek besef ‘n mens moet weet wat aangaan maar hierdie groot geldmaak met wild gaan nou weer op verkeerde ore val! Die suksesvolle boere moet hulle bates baie goed beskerm teen besetting en die nuutste idees van plaasoornames aan minderbevoorregtes…of is ek net onnodig besorg? Diesulkes wat agter die plase le gaan nie die goedgesindheid van die boere aan die ander boere raaklees nie!

pop ·

Baie dankie al julle bedagsame mense wat my gehelp het. Ek waardeer.

François ·

Hierdie sogenaamde eksotiese wildbedryf is ‘n groot ‘bubble’ wat nog lekker gaan bars! Eendag is eendag dan gaan daardie eienaars met daardie diere opgeskeep sit. Prof Saayman praat in ‘n ander berig in dieselfde asem van die biltongbedryf van R 8.8miljard. Hierdie diere & hulle nasate is nie vir die gewone Suid-Afrikaanse biltong jagters beskore nie! Heeltemal buite bereik! Die ryk manne met die dik dollar & pond beursies kom maai onder hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.