Rekords wys Covid-regulasies is onregmatig

Verskeie instellings is gereed om die regulasies in die hof te gaan betwis. (Foto: Maroela Media)

Die vakbond Solidariteit het ʼn brief aan die departement van gesondheid gestuur waarin dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, versoek word om dié departement se omstrede gesondheidsregulasies dringend te laat vaar.

Solidariteit se eis volg nadat die minister se rekord van besluite in die saak ingedien is – wat volgens die vakbond bevestig dat die regulasies onregmatig is.

Indien die minister dit nie doen nie, gaan Solidariteit die hof vir ʼn bestraffende kostebevel vra.

Die vakbond se aansoek waarin gevra word dat die regulasies ongeldig verklaar word, word van 25 tot 27 Julie in die hof geargumenteer. Solidariteit eis nou dat die regulasies voor daardie datum teruggetrek moet word. Organisasies soos AfriForum se aansoek word op dieselfde dag aangehoor.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Maandag in ʼn verklaring gesê die regulasies is duidelik substantief en prosedureel onregmatig.

“Om die omstrede regulasies in die hof te gaan verdedig, gaan belastingbetalers se geld en die hof se tyd mors.

“Die rekords van die regering wys ook dat kommentare wat gelewer is nie behoorlik in ag geneem is nie. Duisende kommentare was nog nie eens verwerk toe die regulasies gepubliseer is nie. Die minister het ook die verpligte kommentaartyd van drie maande geïgnoreer en nie met die nasionale gesondheidsowerheid oorleg gepleeg soos vereis nie.”

Solidariteit sê in sy brief dat die regulasies aan ʼn maatstaf van rasionaliteit in geheel gemeet word, asook die rasionaliteit van die prosesse wat tot die eindelike besluitneming gelei het.

“Die regulasies slaag nie die rasionaliteitstoets nie. Dit is só duidelik dat dit nie vir ʼn regter nodig is om dit te bevind nie.”

Volgens Solidariteit het die minister sy eie adviesraad geïgnoreer wat aangedui het dat die dra van maskers in die buitelug nie wetenskaplik verantwoord kan word nie, en dat die onvoorwaardelike dra van maskers binnenshuis ook nie die regstoets sal slaag nie.

“Hierdie regulasies gaan nie oor maskers nie, maar oor mag en beheer. Die minister wil deur hierdie regulasies die tydelike Covid-19-beheermaatreëls in permanente beheermaatreëls omskep,” sê Hermann.

Volgens die ministeriële adviesraad was die maatreëls wat ingestel is, onvoldoende om verspreiding van die virus te keer, maar dieselfde maatreëls word nou weer in nuwe regulasies afgekondig.

“Die substantiewe immuniteit van die bevolking deur inentings en infeksies word ook nie in die regulasies in ag geneem nie. Dit lyk of ou regulasies net gekopieer en geplak is sonder om nuwe omstandighede in ag te neem. Die minister het die ministeriële adviesraad se aanbevelings net eenvoudig geïgnoreer.”

Boonop het die risiko van Covid-19 afgeneem namate mense natuurlike immuniteit opgebou het en wydverspreide toegang tot doeltreffende entstowwe teen die virus het.

Die brief stel verder dat Covid-19 na verwagting sal ontwikkel en ʼn siekte word wat met lae vlakke van oordrag verbind word. Daar sal moontlik seisoenale toenames in infeksie wees, maar met lae sterftesyfers weens immuniteit en entstowwe. Die druk wat vroeër op die land se gesondheidstelsel geplaas is, het uiteraard ook aansienlik verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Marius ·

Die covid regulasies was van dag een af nie regmatig toegepas nie.

Groen Ghoen ·

Inderdaad weet ons dat daar sinnelose magsvergrype plaasgevind het. Bevestigde mediese beginsels is skaamteloos verontagsaam. Al waarvoor ons nou wag, is vir die eerste hofsake met eise vir skadevergoeding om te begin.

Papsak ·

Klug van dag een af en ons dit geweet vet geld gemaak vat hulle solidariteit

Madeleine ·

Ons weet dit maar ons sal nie veel regkry om dit te baklei nie.

Samuel ·

Maskers in die buitelug is ‘n groot klug. Alles in die ANC gaan oor sentrale en totale beheer.

VaalDonkie ·

Maskers binnenshuis help ook nie want jy kan die ding deur jou ogies ook optel.

Suzette ·

Maskers gaan nie waai nie. Dit word nou so maklik hulle skiet net wanneer en wie hulle wil en stap doodluiters op hulle tyd weg. Gemaskerde kommuniste wat met die covid net meer mag gekry het

Ilze ·

Die ou vrou met die doek se zol regulasies is deur die hof as onwettig bevind. Wat gaan gebeur. Gaan sy die mense wat hulle werk verloor het vergoed? Die ekonomie was sy help vernietig het?

Martie ·

Vat ook asb die werkgewers vas wat mense in die pad steek omdat hulle weier om die inenting te neem. Hierdie hele verpligte inentings besigheid is totaal in stryd met menseregte. Net omadat iemand nie die inenting geneem het nie, neem geel deel van sy bekwaamheid en vermoë om sy werk te kan doen nie. Dis sommer snert en moet waai.

Alida ·

Daar is verlede week navorsing deur Britse wetenskaplikes gepubliseer wat daarop dui dat infeksie deur die Omikron variant van die virus nie tot gevolg het dat ‘n persoon immuniteit teen verdere infeksies met covid kry nie, want Omikron het die vermoë om die immuunstelsel as’t ware teen die virus te “verblind”. Dus is dit nie waar dat mense in SA immuniteit opgebou het deurdat hulle in die afgelope vlaag siek was nie.

Johann101 ·

Wel immuniteit of nie… waarom het suid afrika & afrika so lae infeksie koers (rondom 3% v.d afrika populasie) terwyl omtrent net so 32% van suid afrikaners gevaccinated is en ander afrika lande selfs minder?…
Wie het ook die wêreld gered van algehele dominasie deur die WHO… deur te weier om hul drakoniese health treaty af te skiet en te sê hul sal nie hul sovereignty afteken aan die WHO nie… AFRIKA!…

VaalDonkie ·

Jy het dit verkeerd om: Omikron se mutasies is van so aard dat dit die immuniteit deur die inspuiting verkry heeltemal omseil. Gelukkig vir ons veroorsaak die mutasies ook dat dit eerder die boonste lugweg infekteer eerder as daar diep binne in die longe soos die Alfa en Delta gemaak het. Dus is die simptome ligter. Wat jou immuunstelsel “blind” maak is die nie-neutraliserende teenliggaampies wat deur die entstowwe veroorsaak word. Want hulle sien net ‘n deel van die virus raak en dink dis nog altyd Alfa.

Nettie ·

En hoekom nou eers daaroor terugveg?
“Beheerde teenstand”????

SjN ·

Alles waar hul betrokke is flop, Wat het van voormalige kader Mkize se saak geword?

Mallie ·

Alles waarop die regering hulle hande le is nie regmatig nie.

domheks ·

Jammer die DA het nie geslaag om al die kaders uit te stem nie. Ou Phaaaallaaaa se toutjies word ook maar soos ‘n puppet getrek – en hy spring my maat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.