Renate Barnard: ‘n Storie van struikelblokke, hoop en geloof

Kol. Renate Barnard. Foto: Reint Dykema

Kol. Renate Barnard. Foto: Reint Dykema

“Die wete dat die enigste struikelblok tussen jou en die volgende hoër rang jou velkleur is, is ’n ongelooflike magtelose gevoel. My werk is nie vir my net ’n bron van inkomste nie, maar werklik ’n roeping. Die gevoel wat ’n mens ervaar as jy waarlik ’n verskil in ander se lewens kan maak, kan nooit met geld gekoop word nie.” Só sê lt.kol. Renate Barnard.

Barnard veg al die afgelope agt jaar om in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bevorder te word. Ná die hoogste hof van appèl se uitspraak ten gunste van Barnard, het die SAPD onlangs aangedui dat hy appèl gaan aanteken en beplan om die saak tot in die konstitusionele hof te beveg. “Ek is nou al so lank met die litigasieproses besig dat ek werklik geen illusies meer het nie. Ek weet dit is presies wat dit is – ’n proses. Die konstitusionele hof is net die laaste stap in hierdie lang proses. Ek staan verstom oor die vasberadenheid van die polisie om die saak te bly opponeer, maar aan die ander kant besef ek as dit ons was, sou ons beslis ook die saak verder gevoer het,” sê Barnard.

Sy het haar grootwordjare in ’n polisiekantoor deurgebring. “Ek was ses jaar oud toe die eerste vrou as volwaardige polisielid in die destydse SAP ingesweer is en daar het my groot droom ontstaan om ook eendag daardie blou uniform met trots en waardigheid te kan dra.” Barnard het ’n passie vir mense, veral dié in nood. “Ek het geweet dat ek in die polisie my passie sou kon uitleef en dít doen waarvoor ek glo die Here my hier op aarde geplaas het – om te beskerm en te dien.”

Barnard het goed presteer op skool en kon verder by ’n universiteit studeer het, maar sy het gekies om ná matriek by die polisie aan te sluit. “Ek het vinnig deur die range gevorder, van onderoffisier (konstabel, sersant, adjudant-offisier) tot offisiersrang (luitenant en kaptein). Sedert 1997 tot 2010 het ek die rang van kaptein gedra – ek het in hierdie tydperk vir meer as 70 poste aansoek gedoen, maar was nooit suksesvol nie. “Ek was deur en deur gekwalifiseer (deur God se genade) vir die poste waarvoor ek aansoek gedoen het en die multikulturele onderhoudpaneel het my kwalifikasies, ervaring en gesindheid jeens my werk (in daardie stadium was dit om klagtes teen die polisie te ondersoek) in hul motivering aan die nasionale kommissaris weergegee. Tog was ek telkemale die pos ontsê as gevolg van die feit dat ek ’n wit vrou is.”

Ondanks dié terugslae is dit vir Barnard steeds belangrik om die publiek se vertroue in en siening van die SAPD te herstel. “Daar was soveel aangrypende en hartseerverhale in die sake waarmee ek te doen gehad het. ’n Verwese boere-oom van Piketberg het byvoorbeeld sy enigste seun as gevolg van ’n wrede moord verloor en die moordenaars se enigste ‘buit’ was ’n goedkoop selfoon. Ná jare se gesukkel met die ondersoekbeampte wat nie in die saak belanggestel het nie, het die oom ons genader, die dossier is nagegaan, nuwe opdragte is uitgereik, ’n ander ondersoekbeampte is aangestel en die verdagtes is opgespoor.” Die saak dien tans in die hooggeregshof in Pretoria. Barnard onthou ook die geval van ’n tienermeisie wat as vermis aangegee is. “Ná ons toetrede tot die saak, meer as drie jaar nadat sy weggeraak het, is daar gevind dat sy op dieselfde dag van haar verdwyning wreedaardig verkrag en vermoor is en as ’n naamlose begrawe is.”

Barnard se verhaal is ’n storie van hoop. “My verhaal is nie uniek nie. Daar is duisende ander Renate Barnards daar buite. Baie het soortgelyke ervarings. Die reaksie van die publiek is baie snaaks en ek staan soms verstom. Mense sal my op straat voorkeer en vra of dit ek is wat die polisie hof toe vat. Ek en my ma het eendag in ’n restaurant gesit en ’n man en sy vrou het naby ons gesit en die heeltyd na ons gestaar. Toe ons opstaan en wou loop, het hulle my voorgekeer en gevra of ek Renate Barnard is. Dit blyk toe dat hulle albei onderwysers in die staatsdiens is en hulle was verheug oor die uitspraak. Dit is ongelooflik om te sien hoeveel swart mense my ook ondersteun en aanmoedig. Dit is dan wanneer ek opnuut besef dat almal net ’n plekkie in die son wil hê.”

Barnard sê dis nie maklik om ’n grief teen jou werkgewer in te stel nie, maar as jy in jou saak glo dan moet jy vasbyt en nooit tou opgooi nie. “Dr. Dirk Hermann [bestuurshoof van Solidariteit] het in sy boek Basta! Ons voetspore is in Afrika ’n brief aan sy dogters geskryf waarin hy sê dat God ons elkeen met ’n spesifieke doel geskape het en dat dit nie ’n fout is dat ons juis nou hier aan die suidpunt van Afrika woon nie. Ek weet dat Hy my die krag en genade gee om my doel hier in ons land na die beste van my vermoë uit te leef. En as dit is om op te staan teen ’n onreg soos die huidige toepassing van regstellende aksie, dan sal ek dit doen met die toerusting en hulpmiddele wat Hy my gee. Die proses is lank, die pad soms baie swaar en moeilik, maar dan weer – “God doesn’t call the qualified, He qualifies the called”. As ek terugkyk oor die agt jaar wat ons die pad stap, staan ek net verstom oor die Here se goedheid, sy goddelike beskerming en dan weet ek Hy sal ons deursien en deurdra tot eer van sy naam.”

Kol. Barnard se saak word op 20 Maart in die konstitusionele hof aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

alet ·

Sterkte vir julle en dankie dat daar nog mense is wat omgee vir die blankes

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.