Renate Barnard-regstelsaak: ‘Meer as net ‘n uitspraak’

renate barnardRenate Barnard gaan Dinsdag, ná ʼn uitmergelende hofgeding wat nege jaar geduur het, uiteindelik die uitspraak van haar regstellendeaksiesaak teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ontvang.

Die saak dateer uit 2005 toe Barnard vir die eerste keer vir die pos van luitenant-kolonel (superintendent volgens die vorige range) aansoek gedoen het.

“Die uitspraak waarvoor ons nege jaar lank gewag het is uiteindelik voor die deur. Op die vooraand van die lang verwagte uitspraak deur die konstitusionele hof is ek gevul met wisselende emosies,” het Barnard aan Maroela Media gesê.

“Afwagting en hoop, maar dan weer twyfel en vrees vir die nimmereindigende politieke inmenging – veral in die geval waar die toepassing van regstellende aksie in die ‘beskuldigde’ bank staan. Ek weet dat hierdie saak – ongeag of die uitspraak in ons guns gaan wees, al dan nie – vir baie mense van die minderheidsgroepe in ons land hoop gegee het.”

Barnard sê sy kan net hoop en glo dat die konstitusionele hof reg en geregtigheid sal laat geskied. “Nie net omdat die saak my persoonlik raak nie, maar ook vir alle minderheidsgroepe in ons land – trotse, hardwerkende lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en alle ander staatsdienswerkers wat met passie hul medeburgers wil dien en ook ons kinders en toekomstige geslagte in hierdie pragtige land.”

“Ek glo vas dat ons Hemelse Vader die toekoms in Sy Hande hou. Van die eerste dag wat die Renate Barnard-regstellendeaksiesaak in die arbeidshof aangehoor is, was Jesaja 41:10 my troos, krag en inspirasie – ‘Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou, kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God, Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met My Reddende Regterhand’.”

Barnard het haar dank uitgespreek teenoor diegene wat haar ondersteun het. “Aan almal wat elke tree van hierdie lang, emosionele pad saam met my gestap het, kan ek net uit my hart uit sê baie dankie. Julle sal nooit weet hoe ek elke bemoedigende glimlag, drukkie of mooi boodskap waardeer nie. Vir die mense wat kritiek lewer voel ek uit my hart uit jammer. Dit is altyd makliker om te kritiseer as om op te staan vir dit wat jy met jou hele hart glo die regte ding is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eugene W Steyn ·

Baie sterkte Renate Barnard! Wat ook al die uitspraak, jy is ‘n rolmodel vir ander – ‘n skaars voorbeeld van nooit opgee vir die stryd vir reg en geregtigheid nie!!! Welgedaan!

Red 'n Lewe ·

Wat ‘n pragtige voorbeeld van ‘n mens. Ek stem saam met Eugene.

snip ·

renate ek het reeds op fb vir jou sterkte toe gewens. dankie vir die mooi voorbeeld van uithou en aanhou wat jy stel

Ansie ·

Renate, alle sterkte. Glo in God en als sal reg kom. Jy is werklik ‘n rolmodel vir baie. Ek bewonder jou deursettings vermoë.

Elmi ·

Baie sterkte Renate! En julle gee inderdaad moed aan mense wat ook op een of ander wyse deur hierdie onreg geraak is/word. Dankie ook vir die waardige voorbeeld oor hoe mens so saak hanteer.

charmaine ·

Ek kry sommer hoendervleis! baie sterkte!
In hierdie dae waarin ons leef moet ons as wit vrouens ons kant bring ons moet begin om na onself te kyk, leer om ons self en families te verdedig en saam met ons mans, broers, pa’s staan en “veg”.

Die dae van “die vroutjie by die huis wees” is verby.

Madelaine van Zyl ·

Baie sterkte vir vandag se uitspraak, ek glo ons liewe Vader is en was sover elke tree saam met jou gewees. Baie dankie dat daar nog mense soos jy is wat opstaan vir reg en geregtigheid. Mag God jou seën en elke tree verder bewaar.

Theresa ·

Klaar gehoor sy het verloor. Wys jou nou maar net. Daar is GEEN regverdigheid as dit by die witmense kom nie. Hoe kon alles dan nou VIR haar gewees het en nou draai die Hof en sê anders. Dit maak net nie sin nie. Weereens net ‘n bewys dat alles teen ons is………….

Johannes ·

Sterkte ons bid jou alles van die beste vir toekoms toe en dankie vir jou deursettingsvermoee.

Hendrik Botes ·

Hoe gouer blanke ouers besef dat hul presterende kinders se toekoms in Europa le hoe beter. Hulle gaan bloot arbeiders word in ‘n polities en moreel korrupte land. Die sogenaamde konstitusionele hof het ons sogenaamde regverdige grondwet ontbloot vir wat dit is. Het die appelhof nog enige nut?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.