Renate Barnard sê oor haar bedanking

Lt.kol. Renate Barnard. Foto: Reint Dykema

Lt.kol. Renate Barnard. Foto: Reint Dykema

Lt.kol. Renate Barnard sê haar besluit om uit die polisie te bedank was een van die moeilikste besluite in haar lewe.

“Die besluit om my trotse loopbaan in ‘n organisasie waarin ek letterlik grootgeword het te beëindig, was sekerlik een van die moeilikste keuses in my lewe en was baie beslis nie ‘n impulsiewe besluit nie.“

“RENATE BARNARD LOS DIE POLISIE”, “POLICE COLONEL QUITS AFTER PROMOTION BATTLE”. Só word die nuus op lamppale uitgebasuin. “My telefoon, Whatsapp, BBM en Facebook gons. Almal wil weet waarom, hoekom nou , wat gaan nou van die saak word? Daar is groot verbasing, verwyte en kritiek uit verskeie oorde.”

Barnard sê sy hardloop nie weg nie. “Ek gee nie op nie – ek het die stryd gestry en alleen in die getuiebank gestaan en geveg vir dit waarvoor ek glo. Ek hoop dat ons sukses sal hê by die konstitusionele hof en dat daar ‘n presedent geskep kan word om die staat te dwing om regstellende aksie regverdig toe te pas. Vir myself gaan die lewe aan. Ek het ‘n baie goeie aanbod uit die private sektor ontvang. Ek het nie ‘job-hunting’ gedoen nie,” voeg sy by. “Die geleentheid het op my pad gekom en ek het na lang gesprekke met my Hemelse Vader besluit om die groot stap te neem en die aanbod te aanvaar.”

Barnard sê haar passie is steeds om mense te help. “Om hulle te motiveer en saam hulle te glo dat daar wel ‘n toekoms in die nuwe Suid Afrika is vir ons en ons kinders – ongeag velkleur.” Barnard sê voor sy die formele proses rakende haar bedanking uit die SAPD begin het, het sy heel eerste die impak en moontlike gevolge van haar bedanking met Solidariteit se regsdienste bespreek. “Ek wou niks doen wat die saak en jare lange regstryd kon benadeel nie. Die realiteit is egter dat my bedanking geen invloed op die uitkoms van die saak sal hê nie, omrede die getuienis en die feite van diskriminasie deur die polisie nie deur my bedanking verander word nie.”

Barnard sê weens die aard van haar werk het sy op ‘n daaglikse basis met baie uitdagings wat deur polisiebeamptes hanteer moet word te doen gehad. “Ek het in my kapasiteit as polisiebeampte toenemend begin ervaar dat daar ‘n geweldige botsing is tussen my waardes as mens en as polisiebeampte wat deur die staatspresident aangestel is om wet en orde te handhaaf aan die eenkant en die huidige bestuur van die polisiediens aan die anderkant.”

“Ek het prestasie-oudits gedoen by verskeie afdelings op hoofkantoorvlak, sowel as by polisiestasies en ondersoek-eenhede op voetsoolvlak. Die gaping tussen topbestuur en hul siening van hoe die polisie bestuur moet word en die voetsoldate se siening en daaglikse ervaring het net al hoe groter geword. Daar was deur oudit-aanbevelings gepoog om die gaping te verklein, die probleme te identifiseer en werkbare oplossings te vind, maar tot my skok, verbasing en geweldige frustrasie was baie van my bevindinge uit die verslae gehaal of verander. Aanbevelings was in baie gevalle nooit geïmplementeer nie, omrede daar nie werklik teen wanbestuurders opgetree word nie. In sommige gevalle was van die ‘oortreders’ eerder bevorder as aangespreek.”

Barnard sê die stryd teen onreg en die verkeerde toepassing van regstellende aksie was die laaste paar jaar een van die grootste dryfvere in haar lewe. “Met behulp van die mees professionele vakbond in Suid-Afrika het ons die nege jaar lange geveg begin om ‘n diskriminerende sisteem en ideologie aan te vat. Ons het beide die soet smaak van oorwinning en die bitter beker van verloor gesmaak, maar opgee en handdoek ingooi was nooit ter sprake nie. Tot in die hoogste hof in die land is die saak van ‘Solidariteit namens Barnard vs. SAPD’ gevoer. Die saak het talle mense (polisielede, publiek – wit en swart) hoop gegee en laat glo dat daar wel ‘n plek in die son is vir ieder en elk in die nuwe ‘vry’ Suid Afrika. Uitspraak word tans nog afgewag.”

“Ek het verskeie lede (wit en swart) bygestaan tydens griewe-prosedures teen onbillike arbeidspraktyke in die polisie en het met verstomming kennis geneem van die arrogansie van sekere topbestuurders in die hantering van lede se wettige griewe. Prosesse wat deur middel van onderhandeling tussen polisiebestuur en die erkende vakbonde in die SAPD daargestel is, word blatant deur topbestuur geskend en verbreek.”

“Die feit dat onbevoegde, onervare politieke aanstellings aan die orde van die dag is ten koste van lojale, ervare polisielede wat die passie het om werklik te beskerm en te dien, het my hart op ‘n daaglikse basis gebreek. Dit vat aan enige mens om ‘n bekwame, bevoegde ‘gebore’ polisieman met meer as 21 jaar se operasionele polisiediens in jou kantoor te sien sit en huil uit moedeloosheid, magteloosheid en woede omdat hulle sy junior konstabel (wat glad nie aan enige vereistes van die pos voldoen nie) bo hom (wat met twee range en 18 jaar diens haar senior was) aan te stel. Die onreg is skreiend en die bestuur se hantering daarvan arrogant en onverbiddelik. En dit terwyl mense in die land doodgaan en die polisiediens al hoe meer disfunksioneel word. Ek kan maar net hoop en bid dat daar ‘n draaipunt sal kom en dat die polisiediens weer in ere herstel sal word,” sê Barnard.

Lees ook:
Renate Barnard bedank uit polisie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AmY ·

Sterkte vir die toekoms Renate. Wat jy ook al doen, ek weet jy sal ‘n sukses daarvan maak.

estie marais ·

Ek is jammer dat ons (die saps) jou ondervinding en leierskap gaan verloor. Maar ek kan. Verstaan wat jy se, ek voel ook sou na 20 jaar dien in die saps se burgerlike afdeling is ek ook regtig op n staduim om te wil bedank maar waar kry ek n wit vrou van 43 weer werk daar buite. Sterk Renate ek saluur jou mag dit net goed gaan met jou en die gesin

Martin Fleischmann ·

Ek wil net sê dat “Renate jy is baie braaf”. Om te bedank is ‘n groot besluit en e verstaan waardeur jy gaan. Ek self het Desember bedank juis as gevolg van die Bestuur se onbevoegdheid en diskriminasie.

Ek wag nou al ses maande vir my pensioen geld en dit blyk dat hulle nie baie omgee vir lede wat die diens verlaat het nie. Die bestuur maak hul eie reels en verbreek dit soos dit hulle pas. Ek wil ook net sê dat die onregverdige besluit om lede wat 20 jaar en meer diens het te voorsien van ‘n bonus is net mooi rasisties uitgewerk. Daar was ‘n morotorium op indiensnemings na 1994 en ons moes met min personeel klaar kom. die moratorium is gelig en hoekom nou net die persone wat na 1994 indiens geneem is nou kwaifiseer vir die 20 jaar diens bonus en nie ons wat alreeds jare diens het nie. Dit is omdat die meeste van ons bank is? En hoekom is al die unie verteenwoordigers van POPCRU EN SAPU bevorder. Laat men dink ne. Groete

Joey ·

Baie sterkte met jou nuwe loopbaan. Ek dink (nee ek weet) baie van jou SAPD kollegas beny jou
vir die uitkoms om ‘n tweede kans te kry vir ‘n nuwe loopbaan. Baie van ons sit vasgevang in ons loopbane , werk ons oor ‘n mik, maar weet ons doen dit vir ons eie selfrespek want Bestuur sien dit elk geval nie raak nie – “ploeg mos met ander se perde”. Ongeag my eie negatiwiteit gee jou berig my hoop – hoop om te sien daar is tog mense wat probeer veg vir ons . Verder het ek net besluit “my pos is my pos – weggee sal ek hom nie “(deur te bedank uit moedeloosheid nie) – MAAR as ek ‘n geleentheid buite kry is ek ook weg. Mag jy werklik geseen word daar in jou nuwe beroep , mag jy lewensvreugde uit jou werk put en mag voorspoed jou vergesel op jou pad vorentoe. (YOU GO GIRL)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.