Renbaan-betogers se inhegtenisneming geëis

Polisiebeamptes begelei van die perde ná die voorval by die Fairview-renbaan. (Foto: SAPD)

Organisasies en politieke partye het die gewelddadige aanval op perde by die Fairview-renbaan in Port Elizabeth ten sterkste veroordeel en daar word geëis dat die betogers vervolg word.

Maroela Media het vroeër berig ’n perd is dood en nog perde beseer nadat betogers van ’n plaaslike informele nedersetting Donderdagoggend op die renbaan toegesak en die perde op die perseel losgelaat en leed aangedoen het. ’n Groep van tussen 150 en 200 betogers het vroegoggend die slotte van die perdestalle oopgebreek en 28 perde met geweld uitgejaag. Die perde het in alle rigtings gehardloop terwyl hulle met stokke en klippe geteister is. Een perd is ongeveer ’n kilometer verder in ’n opening naby die huise dood aangetref. Daar word beweer dat die dier met skerp voorwerpe gesteek en aangerand is.

Al die perde kon intussen opgespoor word nadat van dié diere aanvanklik vermis was. Die perde wat in die voorval beseer is, word tans deur die plaaslike Bond teen Wreedheid teenoor Diere in Port Elizabeth versorg.

Nqaba Bhanga, provinsiale leier van die DA in die Oos-Kaap, het in ʼn verklaring gesê stalknegte, wat by die stalle gewerk het, was vermoedelik betrokke. Die persone het hul werk verloor en is ongelukkig omdat hulle nie Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF)-betalings ontvang nie.

“Hierdie gewelddadige aanvalle kan nooit geregverdig of goedgekeur word nie,” het Bhanga gesê. “Die DA Doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging om ondersoek in te stel en seker te maak dat die verantwoordelike persone in hegtenis geneem word en dat hulle vervolg word. Die reg kan nie toelaat dat mense privaat eiendom betree en sulke geweld pleeg sonder gevolge nie.”

Piet Mey, provinsiale leier van die VF Plus in die Oos-Kaap, het intussen gesê die voorval is “onverstaanbaar, onverskoonbaar en weersinwekkend”. Hy het ook bevestig ʼn geskil oor ʼn uitbetaling van die WVF het vermoedelik die onmin veroorsaak.

“Hierdie is ʼn voorbeeld van die onaanvaarbare en skokkende vlakke van geweld wat met misdaad gepaard gaan en wat aan die orde van die dag is in Suid-Afrika,” het Mey gesê. “Hierdie haas onverklaarbare geweld en brutaliteit word gereeld gesien met plaasmoorde. Verlede week was landwye geweld en kragdadige optrede die EFF se wyse om hul ontevredenheid oor ʼn sjampoe-advertensie te lug. In hierdie geval wil dit voorkom of die ongelukkig in werklikheid ontstaan het deur WVF-betalings of nie-betaling waaroor die werkgewer en eienaar van die perde geen beheer het nie en wat eindelik deur die nasionale staat van inperking veroorsaak is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mariana ·

Liewe aarde, is niks dan veilig nie? Waarom onskuldige diere teister. My magtig hoe lank gaan hulle als en almal terroriseer voor daar opgetree word. Hulle vernietig als in hul pad en niks word daaraan gedoen nie.

Blikkantien ·

“Walglik” kan nie eers begin om hierdie optrede te beskryf nie. Geen logikiese denke, laat mens dink die perde het ‘n hoër ik

Persheks Adri ·

Perde is beslis slimmer as meeste mense wat ons ken!

Andre ·

Ongelukkig moet ek sê dat enige kritiek; afgryse en watter byvoeglike naamwoorde ook al, geen inbreuk gaan maak nie want is iemand al inhegtenis geneem wat beteken volgende keer gaan net erger wees. Daarom die vraag aan die politici wat mos ons lei in die land: Is daar enige hoop van selfbeskikking want ek wil nie geassosieer word met…..

Rudolph ·

Die aanvalle op weerlose onskuldige diere is self vir ons ‘n nuwe laagtepunt. Ongelukkig is dieremishandeling endemies in enige bedryf waar diere as kommoditeite gesien word om mee geld te maak of egos te poets soos die geval in die perdewedrenbedryf. Tot tyd en wyl ons respek leer vir alle diere, nie net ons honde, katte en African Greys nie sal hierdie tipe van insident niks vreemd wees nie. Dierevriendelikheid se baie eenvoudige etos is: Respek vir alle diere en doen aan elkeen soos jy aan jouself gedoen wil hê, nie net ons troeteldiertjies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.