Renoster jare ná gru-aanval hervestig

Seha het ses jaar gelede net-net die gru-aanval oorleef. (Foto: Saving the Survivors)

ʼn Tienjarige renoster waarvan die horing jare gelede wreedaardig in Noordwes uitgekap is, is Maandag eindelik in die natuur vrygelaat. Dit nadat hy sowat 30 operasies oor ʼn tydperk van ses jaar ontvang het in ʼn poging om sy verminkte gesig te herstel.

Die polisie het destyds die renosterbul wat Sehawukele oftewel Seha gedoop is, naby ʼn heining van ʼn natuurreservaat aangetref. Hy was so vermink dat hy skaars kon vreet of hoor.

Seha, wat “God wees ons genadig” in Zoeloe beteken, was die enigste van vyf renosters wat die aanval oorleef het.

John Marais, wildveearts wat ook ʼn liefdadigheidsorganisasie Saving the Survivors bestuur, is ontbied om Seha te help red. Die organisasie spesialiseer daarin om renosters wat stropingsaanvalle oorleef te rehabiliteer.

“Hy het eintlik besonder goed herstel,” sê Marais. “Ons sien uit na sy volgende hoofstuk waar ons hom in ʼn 2 000 ha kamp met twee koeie gaan hervestig.”

Marais sê dat Seha se sinusholtes steeds blootgestel is ten spyte van die reeks operasies wat hy ondergaan het. Dié situasie hou moontlik ʼn risiko vir infeksie in.

Natuurbewaarders het nietemin besluit dat dit ʼn goeie idee is om hom in die natuur vry te laat in die hoop dat hy met ʼn renosterkoei sal paar om die dalende renosterbevolking ʼn hupstoot te gee.

Seha het in Junie 2019 ʼn renosterkalfie genaamd Daniël verwek nadat hy in 2018 goed genoeg herstel het en aan twee koeie blootgestel is.

Andre Uys, bestuurder van die reservaat waar Seha nou aangehou word, sê ten spyte van Seha se rehabilitasie is dit nooit sonder risiko om ʼn renoster te hervestig nie.

Seha is egter Maandag sonder probleme vrygelaat.

Sy nuwe tuiste, wat hy met ander renosters deel, word egter geheim gehou om toekomstige stroperaanvalle te voorkom.

Renosterstropers het binne die eerste ses maande van 2021 minstens 249 renosters afgemaai en altesaam 83 in die eerste helfte van 2020.

Altesaam 24 renosters is in die bestek van twee weke in Desember verlede jaar gestroop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Dit is hartseer dat die onopgevoede oosterse nasies veral, dink dat renoster horing jou eksualiteit bevorder. Erger is ons eie mense is bereid om ‘n spesie totaal te vernietig vie geld.

Witwax ·

Dankie vir die wat nog omgee vir ons natuur en diere lewe.

Plaaskind ·

Baie bly die renoster het oorleef en dat hy mooi gesond geword het. So hartseer dat ons mooi diere so verniel en uit gemoor word. Dankie dat daar nog mense met goeie omgee harte is wat hom so mooi gehelp het en nie moed op gegee het met hom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.