Renoster van kant gemaak ná stropers haar vermink

Argieffoto (Foto: Pete Ball/Pixabay)

SANParke het Saterdag gesê sy renosterspan het Donderdag op ʼn renosterkoei in die suide van die Krugerwildtuin afgekom wat erg vermink is. ʼn Video van die beseerde witrenosterkoei word op sosiale media versprei, maar dit is baie ontstellend om te sien, het SANParke gewaarsku.

Volgens SANParke se veearts en die bewaarder wat na die renoster omgesien het, blyk dit dat sy ʼn paar dae tevore reeds geskiet is. Sy het skietwonde aan haar kop en voorpoot opgedoen en sy het oop wonde aan haar gesig gehad waar haar horing op ʼn gewelddadige wyse afgesny is. Sy het ook beserings aan haar rug opgedoen wat waarskynlik toegedien is om haar te probeer verdoof.

“ʼn Besluit is gemaak om haar eerder uit te sit weens die omvang van haar beserings en die koers van infeksie,” het Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke, gesê. “SANParke se omgewingsmisdaad-ondersoekeenheid was op die toneel om alle moontlike bewyse in te samel.”

Gareth Coleman, uitvoerende bestuurder van die Krugerwildtuin, het gesê dié gewelddadige voorval het wildbewaarders en kollegas getraumatiseer. “Hulle doen alles in hul vermoë om hierdie manjifieke diere en bedreigde spesie te beskerm. Talle toeriste besoek juis die Krugerwildtuin om renosters te kom sien en hulle maak ʼn bydrae tot die plaaslike ekonomie. Ons doen ʼn beroep op lede van die gemeenskap om wetstoepassers by te staan om dié misdadigers aan te keer.”

Die voorval volg ondanks voortgesette en toegewyde pogings deur SANParke om renosterstropery in die Krugerwildtuin te bekamp. Altesaam 69 stropers is vanjaar reeds in die wildtuin aangekeer en 105 oortreders van omgewingsmisdaad is buite die grense van die wildtuin aangekeer. Die Skukuza-streekhof het onlangs ook swaar vonnisse opgelê op persone wat skuldig bevind is aan stropery in die wildtuin.

Maroela Media het vroeër berig die bestuur van die Inverdoorn- private wildreservaat in die Wes-Kaap het Woensdag vier van hul renosters dood in die veld aangetref. Een van die gestroopte renosters was boonop dragtig. ʼn Ander renoster het ʼn nagemaakte horing uit veselglas gehad, wat dus van geen waarde vir stropers sal wees nie. Die soekspan het die volgende oggend ʼn vermiste renosterkoei opgespoor. Sy was in die gesig geskiet, maar het steeds geleef. ʼn Wildveearts-span, onder leiding van Johan Marais, is uitgestuur om die verminkte renoster se beserings te bepaal. Gesigrekonstruksie word sterk oorweeg. Die reservaat het ʼn beloning van R100 000 uitgeloof vir enige inligting wat tot die inhegtenisneming van die oortreders kan lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris dupreez ·

Hierdie vuilgoed moet nooit uit die tronk vrygelaat word nie

Alma ·

Wreed, wreed, wreed… Dit sal nooit einde kry voor daar niks meer renosters oor is nie. Mag die renosters by hulle spook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.