Renosterfliek kry staande applous van plaaslike gehoor

verwerk-STROOP-Bonné_de_Bod-TCM-doctor-China

‘n Skermskoot uit STROOP – Journey into the Rhino Horn War, ʼn dokumentere rolprent wat die ingewikkelde saak van renosterstropery ondersoek. De Bod gesels hier met ‘n geneesheer wat in tradisionele medisyne in China spesialiseer oor die bygeloof dat renosterhoring kanker kan behandel. Foto: Susan Scott/Verskaf.

Die eerste Suid-Afrikaanse gehoor wat Woensdag die kans gehad om STROOP – Journey into the Rhino Horn War, ʼn dokumentere rolprent wat die ingewikkelde saak van renosterstropery ondersoek, te sien, het die fliek met staande applous ná die kyk daarvan beloon.

Daar is min Suid-Afrikaners wat nie bewus is van die krisis van renosterstropery in dié land nie, maar Bonné de Bod, aanbieder en vervaardiger, en Susan Scott, regisseur, se dokumentêr het die verskynsel wat die land se renosterbevolking oor die afgelope jare teister, indringend en uit verskillende hoeke onder die soeklig geplaas.

Die eindproduk van vier jaar se harde werk is aangrypend, rou en eerlik. Die rolprent is onlangs by talle Amerikaanse en Europese filmfeeste vertoon en is met tien pryse bekroon vir die indrukwekkende verhaal wat dit vertel.

De Bod sê die doelwit was nog altyd om impak te maak met die rolprent. “Die ontvangs van STROOP in die VSA en Europa was vir ons ongelooflik. Dit het net weer eens bewys die renosterstorie is ʼn kragtige, roerende storie wat enige iemand, enige plek in die wêreld sal raak.

“Ek sê altyd jy hoef nie noodwendig al ʼn renoster te gesien het of op die voorstoep van die Krugerwildtuin groot te geword het om vir die absolute slagting wat hierdie diere in die gesig staar of die opofferings wat mense maak om hulle te beskerm, iets te voel nie.”

ʼn Suid-Afrikaanse gehoor wat, onder andere, bestaan het uit mense wat self in die rolprent verskyn asook die media, het dié week die geleentheid gehad om die eindproduk uiteindelik op eie bodem by Nu Metro in Hydepark, Johannesburg te sien en was beslis nie teleurgesteld nie.

De Bod vermoed baie lede van die gehoor het ʼn soort natuurlewe-rolprent verwag, maar STROOP is veel meer as net dit, meen sy.

“Dit is meer ʼn dokumentere storie, ʼn reis wat ons onderneem het in hierdie oorlog om al die aspekte wat renosterstropery raak, aan die publiek te wys.”

Nog iets wat baie vir haar beteken, is dat soveel mense hulle al aangemoedig het om die rolprent vir ʼn Oscar-toekenning in te skryf.

Sy en Scott sê die vervaardigingsproses het talle hoogte- en laagtepunte gehad.

“Ek dink een van die hartseerste dinge vir my was om te sien hoe brutaal, boos en gierig ons as mense kan wees.

“Iets wat egter baie inspirerend en ongelooflik was, was om te sien hoeveel mense daar is wat elke dag opstaan om te help om hierdie spesie vir ons kinders se kinders te bewaar.”

De Bod verwys na die twee staatsaanklaers wat hulle tydens die verfilming gevolg het.

“Ek dink as ek hulle was, sou ek nie kon help om elke dag oor my skouer te loer en te vrees vir vergelding van stropers nie, maar hulle doen nie.

“Daar is ongelooflike mense in hierdie stryd en ek dink nie hulle kry aldag die erkenning wat hulle eintlik verdien nie.”

Scot sê dit is moeilik om die jare lange vervaardigingsreis van dié dokumentere rolprent in ʼn paar woorde te probeer opsom.

“Ek dink die ergste vir my was die besoeke aan die misdaadtonele waar renosters gestroop is, maar soos wat ons toegang gekry het tot die mense wat ons in die rolprent volg en meer tyd saam met hulle spandeer het, het hierdie fliek verbasend genoeg ook ʼn sterk menslike aspek bygekry.”

De Bod en Scot wil graag hê dat soveel moontlik mense wêreldwyd die rolprent sien. STROOP is ook aan talle Asiatiese joernaliste en by universiteite in dié lande vertoon.

Plaaslik sal mense wat nie een van die spesiale vertonings in Pretoria of Kaapstad kan bywoon nie, die rolprent van Januarie 2019 op verskillende digitale platforms soos Amazon, iTunes en Google Play kan sien. DVD’s van STROOP sal ook binnekort op die winkelrakke beskikbaar wees.

  • Esté Meyer Jansen van Maroela Media het met die vervaardigers Bonné de Bod en Susan Scott na die eerste plaaslike vertoning in Johannesburg oor die aangrypende dokumentêr gesels. Luister na die gesprek boaan hierdie berig.
  • Die publiek wat graag self hierdie jaar nog STROOP wil sien, kan kaartjies kry vir ʼn vertoning op 25 November om 14:00 by Nu Metro in die Menlyn-winkelsentrum, Pretoria. Nog ʼn vertoning is vir Kaapstad op 2 Desember om 17:00 by die V&A Waterfront gereël. Kaartjies vir albei vertonings kan deur WebTickets bespreek word.
  • Bykomende vertonings is ook nou by die Clearwater Mall Nu Metro in Johannesburg op 8 Desember om 09:00 en Ballito Junction Nu Metro in Durban op 9 Desember om 14:00 geskeduleer.
  • In die video onder aan hierdie artikel deel De Bod haar boodskap aan Suid-Afrikaanse kykers oor die kwessie van renosterstropery. Scott het ook ʼn voorbeeld gegee van die werklike krag van sosiale media in die stryd teen die renosterkrisis:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Paul ·

Ek kan nie anders as om te vra nie, was ons nuwe minister van omgewingsake ook daar? Indien nie, moet die roprent weer gewys word, al is dy ook dan die enigste een in die gehoor, maar sien moet sy dit sien. O’ja en nooi CR ook saam.

Michele ·

Baie geluk Bonne en Susan!! Let wel hulle het 10 toekennings vir die film gekry.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Michele

Baie dankie, die berig is nou gewysig.

Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

MissDemeanor ·

MaroelaMedia. Die onderskrif by die eerste foto is misleidend. Jul noem dat renosterhorings gebruik word om kanker te “genees”. Dit is n gevaarlike stelling om te maak. Dit word gebruik om kanker te “behandel”. As julle woorde soos “genees” ligtelik rondgooi dan skep dit die valse indruk dat renosterhoring werklik n kuur is. Dit is onwaar en het slegte gevolge vir renosters asook vir patiente wat vir kwaksalwery val. Stel dit asseblief reg.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê MissDemeanor

Die onderopskrif van die eerste foto is gewysig om enige onduidelikheid uit te skakel soos versoek.

Groetnis

Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.