‘Renosterhof’ bly in Skukuza

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) het die beslissing van die Konstitusionele Hof dat die streekhof in Skukuza in die Krugerwildtuin nie gaan skuif nie, verwelkom.

Die Konstitusionele Hof het Maandag Naomi Annette Engelbrecht, streekhofpresident, se aansoek om verlof tot appèl teen ʼn vroeëre hooggeregshofbeslissing van die hand gewys.

Engelbrecht wou die streekhof, ook bekend as die renosterhof weens die aantal sake van renosterstropery wat hier aangehoor is, uit Skukuza na Mhala laat skuif.

Volgens Ike Phaahla, woordvoerder van SANParke, is Engelbrecht se voorneme met hewige teenkanting begroet, onder andere deur Francis Legodi, Mpumalanga se regterpresident en die nasionale direkteur van openbare vervolging.

Engelbrecht se besluit om die hof summier te sluit is ongeldig verklaar.

Die hooggeregshof in Nelspruit het in April verlede jaar beslis dat die Skukuza-streekhof moet heropen, waarna Engelbrecht haar tot die appèlhof in Bloemfontein gewend het. Haar aansoek om verlof tot appèl is van die hand gewys waarna sy haar tot die hoogste hof gewend het.

“SANParke is tevrede met die beslissing deur die hoogste hof in ons land en sien daarna uit om weer sake in die Skukuza-streekhof te hanteer,” het Gareth Coleman, bestuurshoof van die Krugerwildtuin, gesê.

Die Skukuza-hof is opgeknap en sal binnekort weer sake verhoor, veral sake rakende renosterstropery in die wildtuin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie J ·

Weer n geval van n staatsamptenaar wat in die verkeerde boek gelees het oor wat haar magte, regte en voorregte is of is dit nou n geval van grootkop wat gepuncture is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.