Renosterhoring by moordverdagtes gevind

Argieffoto

Wetstoepassingsowerhede het vandeesweek op renosterhoring en leeubeendere afgekom nadat verdagtes in hegtenis geneem is wat op aanklagte van moord gesoek is.

Lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, verduidelik die inhegtenisnemingsoperasies is deur die sogenaamde Rhino 9-span uitgevoer.

Rhino 9 bestaan uit lede van die SAPD, die Valke, beamptes van doeanes en aksyns, lede van die weermag, beamptes van verskillende regeringsdepartemente en veldwagters van Ezemvelo en SANParke. Dié taakspan is spesifiek op die been gebring om misdaad wat met beskermde spesies verband hou, hok te slaan.

Die intelligensiegedrewe operasies is vandeesweek in Hluhluwe in die noorde van KwaZulu-Natal, Acornhoek in Mpumalanga en Phalaborwa in Limpopo uitgevoer. Altesaam 27 verdagtes is in hegtenis geneem. Agt van hierdie verdagtes is deur die owerhede gesoek in verband met moord en poging tot moord in Plessislaer in KwaZulu-Natal.

Mogale sê tydens die inhegtenisnemings is daar beslag gelê op renosterhoring, ses ongelisensieerde vuurwapens, drie knaldempers, ammunisie en toerusting wat gebruik kan word vir die doodmaak van wilde diere. “In Phalaborwa is daar ook beendere gekry wat vermoedelik leeubeendere is. Die polisie ondersoek waar hierdie oorskot vandaan kom,” het Mogale gesê.

Van die verdagtes het gedurende die week in verskillende howe in die onderskeie provinsies verskyn en al die sake teen hulle is uitgestel vir verdere ondersoek. Aanklagte van moord, poging tot moord, onwettige besit van ʼn vuurwapen, onwettige besit van ammunisie, besit van gevaarlike wapens, betreding en oortreding van die wet op immigrasie is teen hulle aanhangig gemaak.

Die agt verdagtes wat teregstaan op moord en poging tot moord sal op 20 September weer in die Hluhluwe-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Se wie ·

Ek weet so ietsie vd bedrywe af. Daai horing war hulle gevat het is totaal waardeloos. Hy is te droog en is nie reg bewaar nie. Baie boere wat sit met honderde kilogramme wettige renosterhoring dink hulle sit met miljoene se waarde. Hulle gaan so n toets dop. Die manne soek daai horing vars en as hy wel oud is moet hy streng volgens sekere maniere gepreserveer word. En nog n ding. Tans is die waarde van horing R65000 per kg. As die boere wat wettige horing het toegelaat word om dit in die mark te stoot gaan renoster poach oornag begin daal. Hkm moet ons kosbare renosters sterf omdat groenies en ons regering te hardegat is? Bewaar die renoster se hulle? En hoe werk hulle planne tans uit? Dit flop. So gee die boere kans met hulle reserwes en kyk hoe val stropery.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.