Renosterhoring tussen sjokolade by lughawe gevind

Die renosterhoring was tussen sjokoladestafies versteek. (Foto: Verskaf)

’n 46-jarige man is in hegtenis geneem nadat die owerhede by die OR Tambo-lughawe in Kempton Park Donderdag op ses stukke renosterhoring beslag gelê wat tussen sjokoladestafies versteek was.

Die pakkie is glo as Ferrero- en Cadbury-sjokolade verklaar en was op pad na China.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê die owerhede het inligting van die lughawe se vragafdeling ontvang omtrent ’n verdagte pakkie wat vir die Shandong-provinsie in China bestem is.

Die renosterhoring was tussen sjokoladestafies versteek. (Foto: Verskaf)

Lede van die Valke sowel as amptenare van die departement van landbou, bosbou en visserye is toe na die lughawe waar ’n sekuriteitsbeampte wat die skandeerders by die lughawe bedryf, hulle van ʼn verdagte pakkie in kennis gestel het.

Die pakkie is ondersoek en daar is ses stukke renosterhoring in twee bokse met Lunch Bars gevind.

Verdere ondersoek het die owerhede na ’n 46-jarige man gelei. Dié is toe in hegtenis geneem. ’n Onbekende bedrag geld is onder die bestuurdersitplek van sy voertuig versteek gevind.

Nkwalase sê die verdagte sal Dinsdag in die plaaslike hof verskyn op aanklag van die oortreding van die Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteitwet (Nemba).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.