Renosterhorings in voertuig in wildreservaat gevind

Argieffoto: Maroela Media

Vier verdagtes is Dinsdag in hegtenis geneem nadat ʼn vuurwapen en twee renosterhorings verlede week in ʼn verlate voertuig in die Madikwe-wildreservaat gevind is.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het inligting ontvang dat verdagtes verlede Woensdag die wildreservaat in Noordwes, op die grens met Botswana, binnegekom het met die doel om renosters te stroop. Die polisie het die inligting opgevolg en die verdagtes in die reservaat aangetref.

“Die verdagtes het glo die polisie gesien en hul voertuig net daar gelos en te voet gevlug,” het Mokgwabone gesê. “Die polisie het die voertuig deursoek en ʼn vuurwapen, messe en twee renosterhorings daarin gevind.”

Mokgwabone het gesê verskeie leidrade is opgevolg en vier verdagtes is Dinsdag in Winterveldt naby Soshanguve in hegtenis geneem.

Die verdagtes, almal tussen die ouderdomme van 26 en 41 jaar, sal môre in die Zeerust-landdroshof verskyn op aanklagte van sameswering tot renosterstroping, asook die onwettige besit van ʼn vuurwapen en renosterhorings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CHRISTA ·

En as hulle handel in renosterhoring gaan wettig, hoe maklik gaan dit DAN wees om renosters uit te roei net vir hulle horings? Dit lyk vir my of ALS in ons land net gaan oor GELD, ongeag wat in die proses ten gronde gaan!!!

Js ·

Christa, kom ons dink bietjie verder. As handel gewettig word maak dit sin vir wildsboere om met renosters te boer – en as ons dit kan regkry dan is die spesie ten minste veilig. Dit sal ook onwettige ivoor se pryse laat val, as stroping nie meer so winsgewend is nie sal dit ook afneem.

Annatjie ·

Christa wat is die verskil? As dit onwettig is word die renosters net gestroop teen ‘n tempo wat dit vir die wildboer nie meer die moeite werd maak om mee te boer nie. As die boer ten minste ook ‘n paar rand uit die horings kan maak kan dit help om die kostes te dek van die 24 uur sekuriteit wat hy moet betaal om sy diere te bewaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.