Renosterhorings op lughawe gevind

Argieffoto (www.annamiticus.com)

Argieffoto (www.annamiticus.com)

Doeanebeamptes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het Dinsdag op die OR Tambo-lughawe beslag gelê op twee renosterhorings wat op pad landuit was.

Sandile Memela, woordvoerder van die SAID, het gesê die horings is in ʼn besending van ʼn taksidermis ontdek.

“Die besending het nie die nodige uitvoerdokumentasie gehad nie. Beamptes het die koeriermaatskappy gekontak, maar 24 uur later kon hulle steeds nie die nodige dokumente verskaf nie,” het hy gesê.

Omdat daar nie dokumentasie was nie, was dit vir doeanebeamptes nie moontlik om vas te stel waarheen die horings op pad was nie en is daar op die pakkie beslag gelê.

Volgens Memela weeg die horings nagenoeg 10,5 kg en is die waarde sowat R3 miljoen. Handeldryf in renosterhoring word kragtens Suid-Afrikaanse wetgewing verbied.

Die horings is aan die departement van landbou, bosbou en vissery oorhandig, wat die saak verder sal ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann Marx ·

Hoeveel renoster horings lê in polisie stasies se store? Hoeveel renoster horings lê in bewaring nadat renoster eienaars hulle diere onthoring het ter wille van oorlewing? Ek sê verkoop dit….aan die mense wat dit gebruik vir allerhande skete en kwale, of dom genoeg is om te glo dat dit enige stimulerende invloed het op hulle seksdrang. Verkoop dit aan hulle…vir miljoene Rande….nadat elke horing deurtrek is met die sterkste moontlike gif denkbaar. Een renoster horing word fyn gemaal, en in klein hoeveelhede aan duisende mans verkoop…..Laat hulle vir hulle kry…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.