Renosterjagter kry swaar straf

Argieffoto (Foto: Rhino Horn Auction)

WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers en kinders ontstel.

Freitas Antonio Xavier (57), ʼn sogenaamde wildboer, is vandeesweek swaar in die streekhof in Lephalale gestraf nadat hy skuldig bevind is aan aanklagte wat verband hou met renosterstropery.

Brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder vir Limpopo, het gesê Xavier is beveel om ʼn boete van R1 miljoen te betaal of tien jaar tronkstraf uit te dien.

“Die vonnis spruit uit ʼn saak wat deur die polisie se eenheid vir bedreigde spesies ondersoek is. Die saak is in Januarie 2017 by die Lephalale-polisie aanhangig gemaak. Die noukeurige speurwerk wat deur die beamptes uitgevoer is, het daartoe gelei dat die beskuldigde skuldig op al die aanklagte teen hom gepleit het,” het Mojapelo gesê.

“Die sogenaamde wildboer is in hegtenis geneem ná ʼn goed beplande en gekoördineerde poging op sy plaas uitgevoer is. Tydens die klopjag is daar beslag gelê op agt renosters se pote en sewe renosterkarkasse wat in ʼn koelkas gevind is. Die span het ook beslag gelê op ʼn ontbinde renosterkarkas, twee renostervelle en twee koppe van ʼn renoster, sowel as bene wat op die plaas begrawe was.”

Volgens Mojapelo is Xavier aangekla en skuldig bevind op aanklagte van die jag van beskermde diere sonder ʼn permit, die besit van renosters se liggaamsdele sonder ʼn permit en die verkoop van renostervleis sonder ʼn permit.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, het die vonnis verwelkom.

Ledwaba het al die lede wat by die ondersoek betrokke was, geloof en hulle aangemoedig om geen steen onaangeroer te laat om diegene wat vermoedelik die gestroopte renosters se horings ontvang het, aan te keer nie.

Mojapelo het verduidelik die polisie ondersoek steeds inligting dat ʼn helikopter in die omgewing opgemerk is wat die vermoede wek dat die renosters se horings miskien na ʼn ander bestemming geneem is.

Mense met inligting wat die polisie in dié verband met hul ondersoek kan bystaan, word versoek om AO Johannes Jurgens van Heerden by 082 814 4300 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Hoekom noem julle hom ‘n “Renosterjagter” ? Ek sien geen verwysing in die artikel dat die renosters gejag is nie, dalk gestroop maar verseker nie gejag nie. ..

PLP ·

Hoekom moet hy n keuse kry. Hy moet doogewoon n boete betaal van R1 mil wat vir natuurbewaring gebriuk moet word en hy moet outomanties n tronkstraf va 20 jaar gekry het

ronel ·

Ek stem saam PLP, hierdie persoon het geen genade gehad nie, hy behoort die boete te betaal asook vir ‘n stewige aantal jare weggebere word. Wat ‘n wrede, gulsige man!

Cherokee ·

Hy kom te lig af want hy het dalk al ‘n miljoen gemaak uit geslagte renosters.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.