Renosterkalf dood by plek van veiligheid

Lomshi was 14 maande oud toe hy by die reservaat aangekom het (Foto: Care For Wild Rhino Sanctuary, Facebook)

Die Care for Wild Rhino Sanctuary digby Mbombela (Nelspruit), wat ʼn veilige hawe vir tientalle renosterwesies bied, het hul hartseer uitgespreek ná een van hul renosterwesies verlede Maandag dood is.

Volgens die bestuur van Care for Wild Rhino Sanctuary het Lomshiyo, wat ook as Lomshi bekend gestaan het, September verlede jaar met ʼn ruggraatbeserings by dié reservaat aangekom. Dit het gevolg nadat sy ma by die Nasionale Krugerwildtuin gestroop is en hy wees agtergelaat is. Hy was sowat 14 maande oud toe hy by die reservaat aangekom het.

Lomshi se gesondheid het die afgelope paar koue weke agteruitgegaan. Die instansie wou nie uitwei oor wat hy presies makeer het nie.

“Ondanks ons veeartse se beste pogings om Lomshi te red, is hy ongelukkig Maandagoggend dood. Sy versorgers was by hom ten tyde van sy dood,” skryf die bestuur in ʼn verklaring.

Volgens die bestuur het Lomshi nog altyd met sy gesondheid gesukkel en was hy baie kwesbaar. Hy het egter dapper deurgedruk en vasgebyt tot aan die einde.

“Alhoewel ons harte swaar is, weet ons dat ons alles in ons vermoë vir hierdie kosbare siel gedoen het. Mag hy in vrede rus. Hy was ʼn saggeaardjie kalfie vir wie ons so lief was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.