Renosterkalf vrek dag ná redding

Die kalf was in ‘n swak toestand ná die voorval. (Foto: Care for Wild Rhino Sanctuary/Facebook)

ʼn Renosterkalf wat onlangs wees gelaat is, is Maandagaand by ʼn beskermingsfasiliteit dood nadat hy ʼn dag tevore deur wildbewaarders gered is.

Volgens die span by die Care for Wild Rhino-beskermingsfasiliteit in Mpumalanga is die kalf ernstig beseer toe hy by ʼn dragtige renosterkoei melk wou drink. ʼn Nadoodse ondersoek sal die presiese oorsaak van die kalf se dood bevestig.

Die jong renoster se ma is vermoedelik in die Krugerwildtuin deur stropers van kant gemaak en hoewel hy nie deur die stropers geteiken is nie, was hy te jonk om selfstandig oor die weg te kom.

“Hy het ʼn diep wond in sy nek en ʼn beseerde skouer gehad. Hy was uitgeteer en byna heeltemal gedehidreer,” het Petronel Nieuwoudt, stigter van die beskermingsfasiliteit, gesê.

Die renosterkalf is kort ná die voorval na die Krugerwildtuin se behandelingsfasiliteite geneem waar ʼn veearts hom vir skok, pyn, dehidrasie en hipotermie behandel het. Hy is toe Sondag na die beskermingsfasiliteit geneem vir verdere behandeling.

“Hy was in ʼn verskriklike swak toestand en kon net ʼn paar spuite melk drink. Die hele Care for Wild Rhino-span het deur die nag gewerk om hom te stabiliseer,” het Nieuwoudt gesê.

Ten spyte van hul beste pogings is die kalf die volgende dag dood.

“Die dood van dié renoster lê op die skouers van die stropers wat sy ma doodgemaak het.”

Nieuwoudt het almal wat by die reddingspoging betrokke was bedank.

“Om ʼn spesie van uitwissing te red is nie ʼn maklike taak nie en verg samewerking en toewyding,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
haimish

Dis so hartseer!!

Andre

Die koei wou hom nie van haar melk gee nie, rus sag kleinding.

Tipper

Die lewe is hard vir mens en dier.Hierdie mense het baie moeite gedoen.

Sandra

So sad. Siestog hy was seker doodhonger. Dis nou tragedies soos die wat gebeur wanneer die ma’s gestroop word.

Anel

Ai, dit is so hartseer!