Renosterkalfie kort ná geboorte weggegooi

Hoewel die kalfie wees gelaat is, is hy nou in goeie hande. (Foto: Verskaf)

Die renosterkalfie wie se ma ʼn stropingsvoorval by die Inverdoorn- private wildreservaat in die Wes-Kaap oorleef het, is wees gelaat nadat sy ma hom verlaat het.

Die renosterkoei is ernstig beseer tydens ʼn stropingsaanval in Desember, maar het nietemin kort daarna geboorte aan die kalfie geskenk. Trane van vreugde het egter vinnig in verdriet verander toe bewaarders besef dat die renosterkoei niks met die kalf te doen wil hê nie.

Die bulkalf is skaars twee weke gelede vir die eerste keer in die reservaat gewaar nadat hy in ʼn erdvarkgat beland het. Die kalf het na sy ma geroep en spanne is ontbied om die kleinding te red.

Hoewel daarin geslaag is om hom met sy ma te herenig, het ʼn woordvoerder van die reservaat nou bevestig dat dié voorval inderwaarheid die eerste keer was wat die renosterkoei haar kalfie verlaat het.

Sy het kort nadat hulle herenig is, weer afstand van hom gedoen. Dit is nie duidelik waarom sy hom weggegooi het nie.

“Die ma het die kalf al gedurende die aand ná sy geboorte verlaat, wat beteken dat die baba vir ʼn aantal ure alleen was,” sê ʼn lid van die Aquila Collection se reaksiespan.

“Ongelukkig het die ma ook nie genoeg melk geproduseer nie en daarom het die pasgebore kalf nie genoeg noodsaaklike voeding gekry om sy immuunstelsel op te bou nie.” Gedurende die eerste paar uur van geboorte is dit boordnodig dat renosterkalfies voldoende melk van hul ma kry.

Nadat die kalfie vir die tweede keer weggegooi is, het die teenstropingseenheid en die Saving Private Rhino-organisasie ʼn wakende oog oor die kalf gehou. Hulle het bevind dat hy eintlik voortydig en ondergewig gebore is. Die kalf het dringend voeding nodige gehad en die spanne het besluit om in te gryp en hom te red.

Hy het sedert sy redding spesialisversorging ontvang en is intussen na ʼn renosterweeshuis, wat deel van die Aquila Collection is, geskuif.

“Ons spanne doen uitstekende werk,” sê Searl Derman, eienaar van die Aquila Collection en die reservaat waar die stropery einde verlede jaar plaasgevind het.

“Oor die jare was ons betrokke by die versorging van ʼn aantal wesies, so ons fasiliteite is gerat om ʼn veilige en gesonde omgewing te bied vir renosters wat wees gelaat is en nou ʼn tweede kans benodig.”

Om ʼn renosterkalfie te versorg is uiters duur en ʼn hoë risiko aangesien hulle geneig is tot infeksie. Hoewel geen koste ontsien is met dié bulkalf se mediese behandeling en veerartskoste nie, meen versorgers dat hy nietemin baie liefde en ondersteuning nodig het ná sy beproewing.

Nóg ʼn geboorte vir dié reservaat

Ten spyte van die hartseer oor die jong bulkalf wat wees gelaat is, was bewaarders verheug oor die ontdekking dat nóg ʼn renosterkalfie die afgelope naweek in die reservaat gebore is.

Die geslag van die jongste toevoeging tot die renosterbevolking is nog nie bekend nie aangesien die ma baie beskermend is teenoor die baba en nog nie spanne toegelaat het om die kalfie te ondersoek nie.

“Ons is nietemin geseënd met die florerende bevolking by ons wildreservaat en hierdie tweede geboorte van ʼn kalf die afgelope week, is nog ʼn vreugdevolle oomblik,” sê Derman.

“Ek is trots op die werk wat die reaksiespanne en organisasies doen, want dit vorm ʼn groot deel van die bewaringsinisiatiewe wat die voortbestaan van die spesie verseker.”

Volgens die bestuur en moniteringspanne van die reservaat is die jongste kalf in ʼn goeie toestand.

“Die speelse kalfie drink gereeld van sy oorbeskermende ma se melk en is baie gesond.”

Die jongste renosterkalfie by die reservaat. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

Dit is dalk agv die trauma wat die renosterkoei moes deurmaak tydens die stropingsaanval. So bly daar is mense wat nog omgee en hierdie kalfie versorg.

Annelize ·

Ek glo dis beslis te wyte aan die trauma wat sy moes deurmaak tydens die aanval op haar, dat sy die outjie weggegooi het. Die trauma het natuurlik ook direk daartoe bygedra dat hy voortydig gebore is.
Baie dankbaar hy is betyds gekry en dat hy die nodige liefde en sorg kry.

Suzette ·

Beslis die trauma wat sy moes deurmaak foeitog. So dankbaar vir die mense wat opgelei is om in te gryp en te help. Hoop die koei herstel tenvolle en die ou kalfie gaan van krag tot krag.

Wondermaarnet ·

Dankie dat daar mense is wat omgee en omsien na hulle.

madels ·

Vir diere gaan alles oor oorlewing. Die arme ma was so getraumatiseerd, sy sien nie kans nog vir haar klein kalfie nie. Diere het gevoelens so sy verwerk seker nog die trauma. Moes verskriklik vir haar gewees het, shame :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.