Renosterkalfie weer op die been ná aanval

Kolisi, die beseerde renosterkalfie, met sy stewel wat deur Animotion gemaak is (Foto: Verskaf)

ʼn Renosterkalfie wat erg beseer is toe hy verlede maand in ʼn private wildreservaat deur hiënas aangeval is, kan weer loop.

“Toe hy by ons aangekom het, het hy taamlike slegte skuurwonde op sy lyf gehad,” sê Arrie van Deventer, stigter van The Rhino Orphanage. “Die kalf se oor was ook besmet, maar ons was meer bekommerd oor sy regteragterpoot wat erge weefselskade opgedoen het.”

Van Deventer verduidelik dat van die bene uitgesteek het en dat die kalfie net een toon op die beseerde voet oorgehad het.

“Die span het dadelik al sy wonde behandel om verdere weefselskade te voorkom. Ons het toe om die beurt by hom gewaak en Hunter, die sentrum se hond wat in renosterstropery opgelei is, het homself ook oor die kalf ontferm.

“Een van ons spanlede het die kalf ‘Kolisi’ gedoop omdat hy so ʼn vegter is.” Hunter se ontferming was dus van korte duur omdat die renosterkalf vinnig sy kragte herwin het.

Tydens ʼn opvolgbesoek later in Desember het die veearts bevind dat die meeste van Kolisi se ligamente en spierweefsel ontbreek en dat van sy bene geskuif het. Die poot is toe gespalk om die genesingsproses aan te help.

Arrie van Deventer, stigter van The Rhino Orphanage, saam met die span van Animotion (Foto: The Rhino Orpanage/Facebook)

Op 4 Januarie is die sentrum deur die stigters van Animotion, ʼn diereprostetika-onderneming, wat metings en gietvorms vir diere ontwerp, besoek.

“Ek het op Facebook gesien wat met die renostertjie gebeur het en besluit om uit te reik,” sê Werner Smit, medestigter van Animotion. “Ons wou help om vir Kolisi ʼn stewel te ontwerp wat sy beweeglikheid sal vergemaklik en ook sy genesingsproses sal aanhelp.”

Smit sê dat die doel met Kolisi se stewel is om die drukking op die wond te verlig sodat dit vinniger kan genees. Hy verduidelik dat dié prostese van dieselfde materiaal as ʼn menslike prostese gemaak word.

“Ek het breed geglimlag toe hulle vir my die video stuur en ek kan sien dat die prostese wat ons vir die renosterkalfie gemaak het, werk,” sê Smit.

Smit is dankbaar oor die werk wat The Rhino Orphanage verrig en meen dat dit ʼn voorreg is om saam met hulle te kon werk om ʼn verskil te maak.

Hoewel die renostertjie se ma ongedeerd is, sal dié twee waarskynlik nie met mekaar herenig kan word nie.

Posted by The Rhino Orphanage on Wednesday, January 8, 2020

Indien die video nie speel nie, besoek The Rhino Orphanage se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Rassie ·

Hoop die baba word gou gesond en het ‘n goeie lewe vorentoe. Net nie beindruk met die naam wat hulle vir die dingetjie gekies het nie.

toy ·

Ag my dierbaarheid. Ek sal so lief word vir hom. Dankie julle almal wat hom so mooi versorg.

Miekie ·

Ek is baie dankbaar vir die omgee mense om vir die renostertjie ‘n prostese te maak. Is maar hartseer dat die renosterkalfie nou nie met sy moeder herening sal word nie maar die beste nuus is dat hy lewe. Ek gee nie om wat sy naam is nie hy lewe

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.