Renosterkalfies kry komberse vir die winter

Die WAW-groep het ‘n spesiale kombers aan die Little Rhino Orphanage oorhandig. (Foto: Verskaf)

ʼn Groep van 63 renosterkalfies wat wees gelaat is weens stroping, het Donderdag gebreide komberse ontvang om hulle die komende winter warm te hou.

Andri Theyse, koördineerder by Little Rhino Orphanage, ʼn nie-winsgewende organisasie wat dié renosterkalfies ondersteun, het aan Maroela Media gesê die handgemaakte komberse gaan die natuurlik hitte en liefde wat die kalfies normaalweg van hul mammas sou kry, vervang.

“Gewoonlik wanneer die kalfies siek word, wil ons nie hê hulle moet op die koue vloer lê nie. Die komberse wat die Warriors for Africa’s Wildlife-groep geskenk het gaan hulle gemaklik en warm hou deur die koue maande.”

Nita Smith, medestigter van die Warriors for Africa’s Wildlife-groep (WAW) wat in Augustus verlede jaar van stapel gestuur is, en ʼn span vrywilligers het op hul eie onkoste die komberse gebrei om die kalfies se lewe gemakliker te maak.

“Ons woon almal in die stad en kan nie direk met die diere werk nie. Ons geniet dit om te brei, so dis hoe ons besluit het om te help,” sê Smith.

“Dit is verblydend om te weet jy kan ʼn klein renoster sonder ʼn mamma help deur ʼn kombers te brei.”

Die WAW-groep het van Edenvale na Pretoria gery om ʼn kar vol van dié komberse aan Theyse te oorhandig.

“Ons waardeer al die hulp wat ons kan kry, in watter vorm ook al,” sê Theyse.

“Daar is een kombers wat uiters spesiaal is, daar is baie tyd en moeite in gesit en die Little Rhino Orphanage het besluit om dit te raam sodat ons dit moontlik in die toekoms kan opveil om geld in te samel vir die behandeling, beskerming en versorging van die renosterkalfies.”

ʼn Private eienaar het tot dusver die geriewe vir die renosterweeshuis verskaf en die versorging van die kalfies gefinansier. In ʼn poging om die las te verlig is die Little Rhino Orphanage-organisasie gestig, maar die kalfies benodig bykomende ondersteuning.

“Enige iemand wat renosters huisves het ʼn teiken op hul rug, daarom is sekuriteit baie duur. Boonop vereis baie van hierdie kalfies mediese hulp en moet hulle byna elke drie uur gevoer word.”

Volgens die weeshuis se eie veearts word etlike liter melk per dag aangekoop om die kalfies te voer. Hiermee saam word middels soos glukosepoeier en ProNutro by die kilogramme aangeskaf om die melk aan te vul.

Een van die renosterkalfies by die Little Rhino Orphanage. (Foto: The Little Rhino Orphanage/Facebook)

“Daar is altyd nuwe kalfies hier, omdat stropery so volop is. Ons huisves ook renosters wat tot vyf jaar oud is. Die doel is om almal op ʼn wild- of bewaringsreservaat vry te laat, maar omdat ons deurentyd nuwe renosters inneem, is dit moeilik.”

Weens kommer oor veiligheid word die ligging van die renosterkalfies weerhou. Die publiek kan ook nie die plaas waar hulle aangehou word besoek nie. Vir meer inligting of om die Little Rhino Orphanage by te staan, besoek hul Facebook-blad hier.

Intussen beplan die WAW-groep om ander bewaringsinstansies by te staan deur hangmatte vir eekhorings te brei en neste vir voëls te maak wat na rehabilitasiesentrums gestuur word.

“Ons brei nie net komberse nie, wanneer ons genoeg geld ingesamel het, koop ons melk vir renosters, vrugte en neute vir apies en skenk uniforms vir bewaarders. Ons het onlangs speelgoed vir sjimpansees gebrei. Daar is nog so baie wat ons kan doen,” sê Smith.

Sluit hier by die WAW se Facebook-groep aan.

Introducing our most recent arrival at the Little Rhino Orphanage, a little female born on the 10th of March! Her mother was observed as being close to calving but after several hours of monitoring only the back legs of the calf was visible. The veterinarian immobilized the rhino cow and found that the calf was incorrectly positioned. The calf was delivered by careful manual traction and was luckily still breathing. All attempts were made to re-unite mother and calf after the mother recovered from the immobilization drugs, but she unfortunately abandoned the little one.She was brought to the Little Rhino Orphanage and for the first few days she she struggled with an accumulation of amniotic fluid in her right ear which led to her not drinking as well as she should've . But after treatment to clear the fluid from her ear, she is now thriving and turned into a real little milk monster!????????????????????????????????????????#savetherhino #littlerhinoorphanage #rhinoconservation #rhinobaby #pleasedonate

Posted by Little Rhino Orphanage on Thursday, March 18, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Regverdigheid ·

Dankie vir die mense vir die komberse, wens daai mense wat hul mammas dood gemaak kom iets oor hul wreed.

Karina ·

Dit is nou “dit doen my hart goed” mooi storie. Dankie vir die mense wat sulke pragtige kombersies gebrei het vir die renoster kalfies.

akkedismis ·

Stropers moet permanent tronkstraf uitdien. Hulle is WREED!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.