Renosters aangewys as 2012 Nuusmaker van die Jaar

Die Suid-Afrikaanse renoster is Vrydag in Pretoria deur die Nasionale Persklub as die 2012 Nuusmaker van die Jaar aangewys.

“Renosters was deurlopend in die nuus,” het Antoinette Slabbert, voorsitter van die persklub, gesê. Sy sê dit is krities dat instansies en individue stappe doen teen die uitmoor van renosters.

Anton Roux, hoof uitvoerende beampte van die versekeringsmaatskappy Aon, het gesê mediadekking van die probleem het ‘n deurslaggewende rol gespeel. “Alhoewel renosters telkens vir die verkeerde redes in die nuus beland het, het die media ‘n belangrike rol gespeel om Suid-Afrikaners en die res van die wêreld van dié massiewe tragedie in ons land bewus te maak,” het Roux gesê.

Die Nasionale Persklub het in Januarie onder kritici deurgeloop nadat hy aangekondig het dat renosters die 2012 nuusmaker sou wees. Tydens 2012 is 34 mynwerkers in Marikana doodgeskiet, talle skoolkinders in Limpopo het nie handboeke ontvang nie, voormalige ANC-jeugligaleier Julius Malema is uit die party geskors en die multimiljoenrandse veiligheidsopgradering van pres. Jacob Zuma se Nkandla-woning het ook opslae gemaak in die nuus.

“Die aankondiging was ‘n verrassing en ‘n skok vir my. Ek stem saam dat renosters in 2012 in die nuus was, maar die nuusmaker? Definitief nie,” het Yusuf Abramjee, voormalige voorsitter van die klub, in Januarie gesê.

Openbare beskermer Thuli Madonsela en Julius Malema het in 2011 die toekenning gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.