Renostersindikaat-leier in hof vasgetrek

Argieffoto

Argieffoto

Die Valke het Vrydag tien mense in vier verskillende provinsies in hegtenis geneem in verband met renosterstropery en verwante misdade.

Volgens kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, is die beweerde meesterbrein van die sindikaat Vrydagoggend in die Pretoria-Noord-landdroshof in hegtenis geneem. Hy het op ʼn afsonderlike aanklag van renosterstropery in die hof verskyn.

Ramaloko het gesê die nege ander verdagtes is in Polokwane in Limpopo, Ficksburg in die Vrystaat, Potchefstroom in Noordwes en in Montana, Mamelodi en Kameeldrift in Gauteng in hegtenis geneem.

Die verdagtes word daarvan beskuldig dat hulle betrokke was by die stroop van 22 renosters tussen 2008 en 2012. “Die sindikaat het glo 84 renosterhorings bekom en 22 renosters doodgemaak ter waarde van nagenoeg R22 miljoen,” het Ramaloko gesê

Die verdagtes sal Maandag in die Hatfield-landdroshof verskyn op aanklagte van diefstal, bedrog, kwaadwillige saakbeskadiging, geldwassery, intimidasie en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die departemente van omgewingsake en binnelandse sake, polisiespeurders, misdaadintelligensie, die forensiese wetenskap-laboratorium, die Nasionale Vervolgingsgesag, die Suid-Afrikaanse raad vir veeartsenykunde en Protea Coin was by die operasie betrokke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elizabeth ·

Moet hul asb NIE “bail” gee nie! Hulle moet sit. LAAAAAANK – soos in vir ewig. Nie net vir die misdade self maar vir die verskrkiklike wreedheid daarvan ook.

Paul ·

22 Renosters op die klagstaat, Dit beteken bloot dat die groot skelm nog rustig geld maak uit die huidige stropery. Die dag wanneer hulle die regte verpesting vang sal daar gewis ‘n groot kabinetskommeling moet plaasvind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.