Renosterstroop-verdagte in hof; voertuie verkoop vir misdaadeenheid

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Voormalige polisiebeampte wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn sleutelman in renosterstropery is, het Maandag in die streekshof in Middelburg, Mpumalanga, verskyn.

“Joseph Nyalunga is vrygelaat op borgtog van R30 000,” het Nathi Mncube, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, gesê. “Die verdedigingspan het versoek dat die saak na ʼn ander hof, moontlik Nelspruit, oorgeplaas word. Die hof moet wag vir die uitspraak van die president van die streekshof.”

Nyalunga en ʼn vermeende renosterstroper, Conrad Nkuna, is in Desember 2011 in hegtenis geneem toe hulle van Mpumalanga na Gauteng teruggekeer het. Die polisie het tydens die inhegtenisneming beslag gelê op die opbrengs uit onwettige renosterstropery ter waarde van R8.1 miljoen. Die geld was in die mans se Range Rover toe hulle naby Middelburg van die pad afgetrek en deursoek is.

Die polisie het ook die 2009 Range Rover en ʼn 2009 Toyota Fortuner gekonfiskeer. “Die voertuie sal verkoop word en die opbrengs uit die verkope sal aan SANParke se omgewingsmisdaadeenheid oorbetaal word,” het Mncube gesê. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.