‘Renosterstroper’ doodgeskiet; nog 3 vas

Argieffoto: viechfisch, Pixabay

ʼn Vermeende renosterstroper is doodgeskiet tydens ʼn skietgeveg tussen ʼn groep verdagtes en lede van die polisie se teenstropingtaakspan in Hluhluwe in KwaZulu-Natal.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê die teenstropingtaakspan het inligting ontvang dat ʼn groep mans met ʼn bakkie van Melmoth na Hluhluwe sou ry om renosters te stroop. Die beamptes het Saterdag die bakkie op die R22 opgemerk en vir die bestuurder aangedui dat hy van die pad af moet trek.

“Pogings om die voertuig tot stilstand te bring was egter tevergeefs en die verdagtes het weggejaag. Dit het tot ʼn hoëspoed-jaagtog en ʼn skietgeveg tussen die verdagtes en polisie gelei,” het Naidoo gesê.

Die skietgeveg het daartoe gelei dat die verdagtes se voertuig van die pad af gery het en drie verdagtes is op die plek in hegtenis geneem. ʼn Vierde verdagte, wat ook ʼn polisiekonstabel was, is tydens die skietgeveg doodgeskiet en die ander drie verdagtes is gewond.

Naidoo het gesê ʼn .303-jaggeweer waarvan die reeksnommer afgevyl is, ammunisie, ʼn knaldemper, ʼn 9 mm-pistool, twee byle en ander toerusting is in die bakkie gevind. Die polisie het op die inhoud van die voertuig en die bakkie beslag gelê.

“Die drie verdagtes is tans in die hospitaal onder polisiebewaking. Hulle sal waarskynlik aangekla word van poging tot moord, onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en oortreding van die verkeerswet,” het Naidoo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tammy ·

Dis mos nou goeie werk! Dis ontsettende harde werk! Baie dankie aan die mense se vinnige optrede om die stropers vas te vat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.