Renosterstroper gaan lank sit

Drie renosterstropers is die afgelope week in afsonderlike voorvalle in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem. (Foto: Unsplash)

SANParke het die vonnisoplegging van ’n renosterstroper Vrydag in die Skukuza-streekhof in Mpumalanga verwelkom en die betrokke vervolgingspan vir sy werk aan dié saak geloof.

Alsony Alberto Valoyi, ’n onwettige immigrant van Mosambiek, is 23 jaar tronkstraf opgelê nadat hy onder meer skuldig bevind is aan renosterstropery, die onwettige besit van ses renosterhorings, vuurwapens en ammunisie asook die onwettige betreding van ’n nasionale park.

Hy is 2016 in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem.

Dié vonnis kom skaars ’n dag ná die skietdood van Petrus Sydney Mabuza (57), die vermeende baasbrein van ’n reuse-renosterstroperysindikaat in Mpumalanga.

Mabuza het Donderdagmiddag in sy Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie gesit toe minstens drie gewapende mans op die bakkie losgebrand het.

“SANParke was geskok om van die skaamtelose moord te verneem wat helderoordag in Hazyview plaasgevind het. Hy [Mabuza] sou binnekort in verband met verskeie renosterstroperysake verhoor word,” sê Isaac Phala, SANParke-woordvoerder.

Phala sê voorts dat drie renosterstropers die afgelope week in afsonderlike voorvalle in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem is.

Gareth Coleman, SANParke se besturende direkteur, het almal wat by dié inhegtenisnemings betrokke was bedank.

“Ons het in die laaste week 25 aktiwiteite van stropery opgemerk wat op nuut die onverskrokke aanval deur misdaadsindikate op ons natuurlike erfenis bevestig.

“Ons is dankbaar vir kollegas wat egter nét so onverskrokke te werk gaan om ons fauna en flora te beskerm.”

Coleman doen ’n beroep om gemeenskappe om paraat te wees en alle verdagte aktiwiteite aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre

Veels te min jare!

Tiptol

Mabuza het gekry wat hom toekom. Die breine agter hierdie misdade moet vasgetrek word.

Sarel

Terwyl hy daar is laat hom bietjie sanitasie werk verkieslik in Dierehokke masr Putlatrines sal ook werk

Oom Hennie Pennie

Veels Geluk! Strawwe moet swaarder wees egter

Danie

Ek kan dink aan verskeie perlemoen- en anders stropers van wilde diere wat maar vir mabuza kan volg.