Renosterstroper sal minder as helfte van straf uitdien

Renosters in die Krugerwildtuin. (Foto: Argieffoto/Maroela Media)

ʼn Man wat swaar gestraf is vir renosterstropery sal in werklikheid minder as die helfte van sy oorspronklike vonnis uitdien.

Mike Nyathi, ʼn 39-jarige Mosambieker met Suid-Afrikaanse burgerskap, is skuldig bevind aan 12 aanklagte wat verband hou met stropery. Dít nadat 14 aanklagte wat verband hou met twee afsonderlike renosterstroperygevalle hom oorspronklik in die gesig gestaar het.

Die Skukuza-streekhof het Nyathi 53 jaar tronkstraf opgelê, waarvan hy slegs 23 jaar sal uitdien omdat van die vonnisse gelyklopend uitgedien word.

SANParke het nietemin die uitspraak verwelkom en die betrokkenes bedank vir hul hand in Nyathi se inhegtenisneming en vonnisoplegging.

Nyathi is aanvanklik in 2017 in hegtenis geneem nadat wildbewaarders hom in die omgewing van Kingfisherspruit in die Krugerwildtuin betrap het.

Die bewaarders het ʼn hinkende renoster wat geskiet is in die gebied aangetref. Hulle het mense se spore gevolg en op Nyathi en nog ʼn verdagte afgekom.

Terwyl albei in hegtenis geneem is, het die beseerde renoster egter aan sy beserings beswyk.

Nyathi en sy makker het kort daarna in die hof verskyn en is borgtog toegestaan. Albei het egter versuim om in ʼn later stadium weer in die hof te verskyn.

Tydens nog ʼn geval van renosterstropery in 2019 het wildbewaarders die vermeende boosdoeners se spoor gevolg en op ʼn vuurwapen, asook Nyathi afgekom. Hy is weer in hegtenis geneem.

Dit het later aan die lig gekom dat Nyathi verbind word met die voorval in 2017 en albei misdade is gesamentlik voor die hof gebring.

Hy is vandeesweek skuldig bevind op onder meer die onwettige besit van ʼn vuurwapen, onregmatige betreding en die doodmaak van ʼn bedreigde spesie.

Gareth Coleman, bestuurshoof van die Krugerwildtuin, het die wildbewaarders, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die polisie bedank dat die skuldige vasgetrek is.

Een van Nyathi se makkers wat saam met hom in 2017 in hegtenis geneem is, is egter steeds op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.