Renosterstroper se vonnis versag

Foto: www.rhinoconservation.org

Foto: www.rhinoconservation.org

ʼn Thaise burger wat skuldig bevind is aan die handel in renosterhoring, se vonnis is deur die hoogste hof van appèl met meer as die helfte verminder.

Chumlong Lemthongthai is vroeër tot 30 jaar tronkstraf gevonnis maar die appèlhof het sy vonnis tot 13 jaar tronkstraf verminder. “Die vonnis van 30 jaar tronkstraf is te erg en veroorsaak ʼn gevoel van skok,” het regter Mahomed Navsa in sy uitspraak gesê.

“Dit is buite verhouding in vergelyking met die minimum vonnisse wat statutêr vir ander ernstige oortredings voorgeskryf word.” Navsa het in sy uitspraak gelas dat Lemthongthai ‘n boete van R1 miljoen moet betaal en dat sy vonnis vir vyf jaar verleng moet word indien hy nie die boete betaal nie.

Lemthongthai is in 2011 in hegtenis geneem nadat dit aan die lig gekom het dat hy ʼn Suidoos-Asiese smokkelsindikaat bedryf het waarvolgens renoster-jagpermitte onder valse voorwendsels bekom is en vir die “trofeejag” van renosters gebruik is. Die sindikaat het glo jong Thaise vroue, wat as ontkleedansers na die land gesmokkel is, gebruik om as trofeejagters te poseer.

Lemthongthai is aanvanklik deur ʼn landdros tot 40 jaar tronkstraf gevonnis. Hy het die saak egter na die hooggeregshof in Pretoria verwys en sy vonnis is tot 30 jaar verminder. Lemthongthai het hierna die appèlhof genader.

Navsa het die regeringsdepartement wat die permitte toegestaan het erg gekritiseer in sy uitspraak vir ʼn “gebrek aan behoorlike toesig van gemagtigde jag”. Hy het gesê dit blyk dat “ten minste ‘n paar van die betrokke amptenare waarskynlik geweet het dat daar nie aan die bepalings van die permit voldoen is nie en dat die verklaarde doel van die jag vals was”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.