Renosterstropers altesaam 550 jaar tronkstraf opgelê

Argieffoto

Drie renosterstropers is Woensdag in die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) in die Oos-Kaap altesaam 550 jaar tronkstraf opgelê.

Forget Ndlovu (43), Jabulani Ndlovu (41) en Sikhumbuzo Ndlovu (40) is in Maart vanjaar skuldig bevind op 55 aanklagte wat verband hou met renosterstropery tussen 2013 en 2016.

Volgens kol. Sibongile Soci, woordvoerder van die polisie, is die skuldiges vonnisse opgelê wat wissel van vyf tot vyftien jaar tronkstraf. Die vonnisse sal egter aaneenlopend uitgedien word en elkeen sal tronkstraf van 25 jaar uitdien.

Soci sê die polisie het werklik ʼn deurbraak in die stroping van renosters behaal toe dié stropers eindelik in Junie 2016 by die Makana-oord naby Makhanda vasgetrek is.

Soci sê ʼn polisiespan onder die leiding van kapt. Morne Viljoen het ten tyde van die inhegtenisneming op ʼn renosterhoring van 72 cm asook verdowingsmiddels, messe en vuurwapens wat gebruik word om diere te verdoof, beslag gelê.

Die skuldiges word onder meer verbind met die stroop van ʼn renoster in die Buckland-wildreservaat buite Makhanda. Dié renoster is op 17 Junie 2016 vir die laaste keer gewaar. Daar word vermoed dat die stropers hom verdoof het.

Die skuldiges kon op daardie stadium met tien voorvalle van renosterstropery in die Oos-Kaap asook Mpumalanga en KwaZulu-Natal verbind word.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het dié stewige vonnis verwelkom.

“Die vonnis is die produk van die polisie se onwrikbare toewyding in die stryd teen wildsmisdade wat met georganiseerde misdaad verband hou,” het Ntshinga gesê.

“Ek is verheug dat die drie verdagtes deur die Oos-Kaapse ondersoekbeamptes in hul spore gestop is nadat hulle by meer as tien voorvalle in die land betrokke was,” het sy gesê.

Volgens Ntshinga was daar sedert dié stropers se inhegtenisneming nog nie weer ’n renoster wat in dié provinsie onder stropers deurgeloop het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Judge Dredd ·

As ek 200km\h ry – kan ek vir die speedcop se dat ek my spoed aaneenlopend gedoen het – dus net so 10km\h ?

Robert ·

Darem weer goeie nuus vir die regstelsel in die land. Hoop net hulle kry nie parool na 2 jaar nie….

Katryn ·

Wat ‘n goeie vonnis! Nou moet lafhartige hokjagters ook vasgevat word, en diè betrokkeby georganiseerde honde gevegde. Geen genade moet betoon word vir dieremishandeling nie.

De Villiers ·

Tronkstraf is egter nie ń gepaste straf nie, ongeag hoe lank ook al, want dit regverdig glad nie die mate waarmee die kriminele daad gepleeg is en die nadelige gevolge daarvan nie. ‘n Bedreigde spesie is koelbloedig doodgemaak, met moontlike lyding, vir een persoon se persoonlike finansiële gewin, en dit belemmer die voortbou op die nageslag van die dier. Boonop het die krimineel heeltyd regte wat hom beskerm en moet my belastinggeld hom in die tronk onderhou. Verwyder hom eerder uit die samelewing, ‘n oog vir ‘n oog.

Anoniem ·

“Onthoring” die stropers in die openbaar as afskrikmiddel.

Helena ·

25 jaar in die tronk vir Renosterstopery….. Maar 11 jaar vir moord…. Daar is geen hoop vir ons regstelsel.

vania ·

Moet vra…3 is gevonis ne, 25 jaar elk .. 3 x25=75 jaar al te saam. hoe is dit 550 jaar?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.