Renosterstropers eindelik agter tralies

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) het sy tevredenheid uitgespreek met die straf wat vyf renosterstropers in twee aparte sake opgelê is. Dié vonnisse volg jare nadat die renosterstropers in hegtenis geneem is.

Bennet Martin Lubisi en Bennet Johannes Bendane is Maandag in die Mhala-streekhof in Mpumalanga tot effektief agt jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte wat verband hou met die stroop van renosters. Dié saak sloer al sedert 2016.

Hulle is skuldig bevind op aanklag van die betreding van ʼn nasionale park, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie met die doel om ʼn misdaad te pleeg.

Nog drie renosterstropers, Peter Mathebula, Mustard Mathebula en Artur Valoyi, is in Februarie in die Mhala-streekhof gevonnis ná ʼn lang verhoor. Hulle is in Augustus 2018 deur SANParke-veldwagters in die Houtboschrand-gebied van die Krugerwildtuin vasgetrek.

Die drie is skuldig bevind op aanklag van renosterstropery, insluitend die besit van twee stelle renosterhorings, ʼn jaggeweer, ammunisie, die betreding van ʼn nasionale park met die doel om ʼn misdaad te pleeg en die onwettige jag van ʼn bedreigde dier.

Peter Mathebula is tot effektief 23 jaar tronkstraf gevonnis en Mustard Mathebula en Valoyi is elk effektief vier jaar tronkstraf opgelê.

Gareth Coleman, besturende direkteur van die Krugerwildtuin, het die ondersoek- en vervolgingspanne geloof. Hy sê hoewel daar ʼn paar jaar ná die inhegtenisnemings verloop het, is hulle bly die sake kon nou afgehandel word.

“Ons is trots op die werk wat die veldwagters, die ondersoek- en vervolgingspanne onder baie moeilike omstandighede gedoen het. Suksesse van hierdie aard toon die belang van samewerking tussen die verskillende staatsinstansies om renosterstropery in die Krugerwildtuin te bekamp,” sê Coleman.

“Ons hoop dat al die uitstaande sake so gou as moontlik afgehandel kan word.”

Maroela Media het vroeër berig die Konstitusionele Hof het beslis dat die streekhof in Skukuza in die Krugerwildtuin nie gaan skuif nie. Dit volg nadat Naomi Annette Engelbrecht, streekhofpresident, die streekhof, ook bekend as die renosterhof, weens die aantal sake van renosterstropery wat hier aangehoor is, uit Skukuza na Mhala wil laat skuif.

Die Skukuza-hof is opgeknap en sal binnekort weer sake aanhoor, veral sake rakende renosterstropery in die wildtuin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tiptol ·

Goeie nuus, maar 5 jaar vir die saak om afgehandel te word is verskriklik.

SomeOne ·

4 of 8 jaar vir horing stroping, dit klink na ‘n goeie besigheid om te begin

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.