Renosterstropers gaan lank sit

Argieffoto (Foto: Nel Botha/Pixabay)

Die departement van bosbou, vissery en omgewingsake verwelkom die vonnisoplegging van drie renosterstropers.

“Die lang vonnisse in die Skukuza-streekhof stuur ʼn sterk boodskap dat die onwettige stropery van dié ikoniese spesie nie geduld sal word nie,” sê Albi Modise, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring.

Walter Hendrick Mangange (59), Shangani Mathebula (26) en Emmanuel Mdluli (33) is op 2 September skuldig bevind op aanklagte wat met renosterstropery verband hou, insluitend betreding van die Krugerwildtuin om misdaad te pleeg, die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie, die besit van gevaarlike wapens en drie aanklagte van renosterjag.

“Wildbewaarders met snuffelhonde het gesien hoe die mans twee renosters skiet toe hulle ondersoek ingestel het oor geweerskote in die wildtuin,” het Modise bygevoeg. “Die stropers is in hegtenis geneem met behulp van SANParke se helikopterspan. Hulle het ʼn jaggeweer in hul besit gehad waarvan die reeksnommer afgevyl is. Hulle het ook ammunisie en renosterhoring in ʼn rugsak by hulle gehad.”

Mangane is 45 jaar tronkstraf opgelê en Mdluli 30 jaar. Mathebula, ʼn Mosambieker wat onwettig in Suid-Afrika was, is 30 jaar tronkstraf opgelê vir oortreding van die Immigrasiewet en bogenoemde aanklagte.

“Wêreldrenosterdag word jaarliks op 22 September gevier. Dié vonnis is ʼn goeie voorbeeld van die suksesse wat behaal word deur ʼn samewerkende benadering deur die regering om renosterstropery te voorkom. In hierdie geval word die sukses toegeskryf aan die spanwerk van die wildbewaarders, die polisie en staatsaanklaers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico ·

Dit wil my voorkom of die renoster meer werd is ‘n menslewe daar is nou 100,000 vry gelaat as gevolg van swak polisie werk, DNA toetse word nie gedoen nie. Die president en minister van polisie doen niks aan die saak nie, dan kom Cele nog en kla dat sobaie polisie lede vermoor word, kry julle sake in orde en doen julle werk beter.

Hoopvol ·

Ek is baie dankbaar vir dié vonnis vir die renosterstropers. Dit is egter skokkend dat moord skynbaar as ‘n baie ligter misdaad geag word – as my oordeel nag berus op die vonnis wat mense daarvoor opgelê word… Moordenaars en verkragters behoort NOOIT OOIT weer op straat te beland nie, maar (eerder as om hulle tereg te stel soos hulle verdíén) lyk dit nou of hulle vrygelaat moet word om die renosterstropers in gevangenisse te akkommodeer.

Jack ·

Wat weeg die swaarste die oortredings van onkundige skelms wat net wild kan dood en tronkstraf kry of n zuma wat miljoene se lewens verwoes het. Wat is geregtigheid werd in die land

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.