Renosterstropers in Limpopo gesoek

‘n Gestroopte renoster in Limpopo. (Foto: Verskaf)

Polisie in Phalaborwa, Limpopo, is op soek na vermeende stropers wat Dinsdag en Woensdag twee renosters in ʼn plaaslike wildreservaat afgemaai het. Die wildreservate is naby die Swelane-nedersetting.

Gestroopte renosterhorings in Limpopo. (Foto: Verskaf)

“Daar word beweer dat plaaswerkers die omgewing Dinsdag om 15:00 gepatrolleer het toe hulle op een van die renosters se karkasse afgekom het. Dit wil voorkom of die stropers gesteur was, want hulle het nie daarin geslaag om die horing van die karkas te verwyder nie,” sê kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in die provinsie.

Die polisie is die volgende dag ontbied na ʼn ander plek in dieselfde reservaat, waar hulle op nóg ʼn renosterkarkas afgekom het, dié keer met die horing verwyder.

“Die verdagtes in albei die voorvalle is steeds onbekend en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die ondersoek en soektog na die verdagtes duur voort,” sê Ngoepe.

Die polisie vra dat enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, vir kapt. Peter Meyer op 082 319 9460 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nozi ·

Dis so hartseer. As jy deesdae ‘n renoster sien het hy nie meer horings nie. Ons kleinkinders gaan ook maar net die ware jacob in ‘n storieboek kan sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.