Renosterstropers kry wind van voor

Argieffoto van renosters in die Krugerwildtuin (Foto: Karen Sandison/African News Agency/ANA)

Vier vermeende renosterstropers is in twee afsonderlike voorvalle op Maandag en Dinsdag in die Krugerwildtuin in hul spore gestuit. Dit volg op twee stropers wat Dinsdag swaar gestraf is in die Skukuza-streekhof.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het veldwagters Maandag omstreeks 12:00 in die Houtboschrand-gebied menslike voetspore opgemerk – wat op die moontlikheid van stropers kon dui.

Die veldwagters het die spore met die hulp van ’n spoorhond gevolg en twee verdagtes aangekeer.

Die polisie in Skukuza is ontbied en hulle het Raydon Zitha (24) en Ernesto Zitha (27) in hegtenis geneem. Hulle is in besit van vuurwapens gevind.

“Die verdagtes is van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie aangekla. Meer klagtes sal later teen hulle bygevoeg word soos die ondersoek voortgaan,” sê Mohlala.

’n Dag later is nóg twee verdagtes in afsonderlike gevalle in die wildtuin vasgetrek.

Maxiyi Hlungwana (33) en Khensani Chauke (26) is Dinsdag omstreeks 12:30 in die wildtuin deur veldwagters en spoorhonde aangekeer.

Hulle is ook voorlopig aangekla van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Volgens die ondersoek is al die verdagtes van Mosambiekse herkoms en het hulle Suid-Afrika onwettig betree. Hulle sal gevolglik ook van die oortreding van die Wet op Immigrasie aangekla word.

Die vier sal na verwagting weer op 4 Mei in die Skukuza-streekhof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Flaveo Cuetsele (21) en Nelson Mhlongo (34), onwettige immigrante van Mosambiek, is 19 jaar tronkstraf opgelê nadat hulle onder meer skuldig bevind is aan renosterstropery, die onwettige besit van renosterhorings, vuurwapens en ammunisie asook die onwettige betreding van ’n nasionale park. Hulle is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Die twee beskuldigdes het saam met ’n derde makker die park op 5 Maart deur die Tshokwane‑ en Laer-Sabie-gedeeltes van die wildtuin betree met die doel om renosters te stroop. Die derde verdagte is steeds op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JM ·

Suid-Afrikaanse belastingbetalers moet nou opdok vir hierdie onwettige immigrante wat in ons tronke aangehou word!

Kokerboom ·

Stropers moet dieselfde lot kry wat hul aan renosters doen. Indien nie gaan die sage NOOIT einde kry! Die ou konstante “sagte handjie” benadering en menseregte kwessies is twak!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.