Renosterstropers loop hulle vas

Twee vermeende renosterstropers in Dinsdagaand op ’n private plaas in die Vredefort-omgewing aangekeer. (Foto: Facebook / Vredefort Koepel-GPF)

Vier vermeende renosterstropers het Dinsdagaand hulle moses teëgekom toe hulle op ʼn plaas naby die R59 in die Vredefort-distrik in die Vrystaat wou toeslaan.

Twee verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem, terwyl nóg twee in dié stadium gesoek word. ʼn Polisieman is wel tydens die voorval gewond, maar die renosters is ongeskonde.

Volgens Herman van Wyk, ondervoorsitter van die Vredefort Koepel-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het dié veiligheidstruktuur reeds verlede week inligting van ʼn beplande stropery in die omgewing ontvang.

Van Wyk sê die GPF is uiters aktief in hierdie omgewing en werk nou saam met die polisie.

“Renosterboere is gevolglik gewaarsku om paraat te wees en die inligting is aan die polisie deurgegee.

“Met behulp van ons bronne kon ons eindelik bepaal waar en wanneer die vermeende stropers gaan toeslaan.”

Volgens Van Wyk is twee van die vermeende stropers kort na 19:00 sowat 100 meter van die hek van die betrokke plaas deur ʼn wegkommotor afgelaai, min wetend dat die polisie en GPF hulle fyn dophou.

Die verdagtes was glo swaar gewapen en het toerusting in hul besit gehad om renosterhorings te verwyder.

“Hulle het deur die heining geklim waar hulle hul gou in wagtende polisiebeamptes vasgeloop het.

“Daar was ʼn geskarrel en ʼn skietery het gevolglik uitgebreek.”

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n 34-jarige polisiebeampte tydens dié skietery in die been gewond is en tans in ’n hospitaal aansterk.

Hy sê die verdagtes wat op vlug geslaan het, het onder meer ʼn .375-jaggeweer, ʼn byl en ammunisie agtergelaat wat deur die polisie in beslag geneem is.

“Die mans het gevlug en word tans gesoek.”

Volgens Van Wyk het lede van die GPF intussen gesien dat die wegkommotor op pad terug is.

“Ons het hulle aangekeer en twee verdagtes is in hegtenis geneem,” sê Van Wyk.

Makhele sê aanklagte van renosterstropery word tans ondersoek, asook twee sake van poging tot moord.

“Niemand is egter nog in verband met die poging tot moordsake in hegtenis geneem nie.”

Van Wyk is vol vertroue dat die verdagtes wat tans op vrye voet is, ook binnekort in boeie sal wees.

“Ons het ʼn gesegde hier dat ons hulle sal jag tot ons hulle vang. Ons sal nie rus tot ons hulle opgespoor het nie,” sê Van Wyk.

Hy het die polisie, boere in die omgewing en omliggende gebiede asook nooddienswerkers vir hulle betrokkenheid by die operasie bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Welgedaan

Pieter

Met die anc land se regstelsel is hulle more uit op vyf honderd rand borg.

Gert

Wens net dit kan elke keer gebeur welgedaan

Patch

Goeie nuus so op Wêreld Renosterdag.

Elsa

Nice. Very nice.