‘Renosterstropers’ vra borgtog

Die ses beskuldigdes het glo ’n hoogs professionele sindikaat bedryf wat renosterhorings gestroop en op markte in Gauteng laat opveil het. Foto: Save the Rhino via Facebook

Ses vermeende lede van ʼn sindikaat wat daarvan verdink word dat hulle op groot skaal met gestroopte renosterhorings smokkel, se borgtogverhoor is tot Vrydag uitgestel.

Die ses is op 18 September in Mpumalanga in hegtenis geneem deur ʼn gesamentlike taakspan van onder andere die Valke, spesiale taakmag, SANParke, die departement van omgewingsake, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en plaaslike en provinsiale speurders.

Hul borgtogaansoek is gister in die landdroshof op Witrivier hervat, maar omdat dit nie afgehandel is nie, is dit tot Vrydag uitgestel.

Die verdediging het reeds hul vertoë gerig, maar die staat staan hul borgtogaansoek teen. Intussen bly al ses beskuldigdes in aanhouding tot hul volgende hofverskyning. Hulle is Sydney Petrus Mabuza (53), Clyde Lubisi (32), Cloud Mnisi (33), Joseph Nyalungu (53), Aretha Mhlanga (39) en Rachel Qwabane (33), wat almal reeds meermale die afgelope maand in die hof verskyn het.

Brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, het kort ná hul inhegtenisneming gesê wetstoepassers het tydens die optrede beslag gelê op luukse voertuie en motorfietse, vragmotors, ʼn onbevestigde bedrag kontant, diervelle en ʼn groot aantal vermoedelik gesteelde items, waaronder sleepwaens, kragopwekkers en verskeie elektroniese toestelle.

“Die waarde van die besittings waarop ons beslag gelê het,” het hy gesê, “beloop na raming etlike miljoene rande.”

Die verdagtes sluit twee vermeende sindikaatleiers, een van dié se regterhand, twee polisielede en ʼn oudpolisiebeampte in. Die aanklagte teen hulle wissel van diefstal en die onwettige koop en verkoop van renosterhorings tot korrupsie en geldwassery.

Die belangrike deurbraak was die gevolg van ʼn ondersoek – Projek Broadbill – waarmee die afdeling natuurlewehandel van die direktoraat vir voorkeurmisdaadondersoek (die Valke) verlede Januarie begin het.

“In die ondersoek het beamptes hulle toegespits op die voorsieningketting van gestroopte renosters in die Krugerwildtuin, KwaZulu-Natal en Gauteng asook in privaat en staatsreservate,” het Mulaudzi verduidelik. “Lede van die sindikaat het glo stroopgroepe bedryf met behulp van korrupte polisiebeamptes sowel as [die bestuur] van privaat wildreservate.”

Hy vertel die misdadige aktiwiteite is deeglik beplan en blykbaar uitgevoer met paramilitêre dissipline en teenintelligensie-optrede om blootstelling te voorkom.

Die horings wat so verkry is, is glo vir die hoogste prys op markte in Gauteng verkoop en dan na Suidoos-Asiese markte versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris du preez ·

Geen borgtog. Renoster stropery moet gesien word as moord. Lewenslange tronkstraf

Janet ·

Ek hoop regtig nie hulle gaan kry nie. Dit sal fataal wees. ?

Bekkie ·

NEEEEEEE!!!!!!!!!!!!!!!
Geen borg.
hy sal dit net weer gaan doen

Cora Simpson ·

Het hierdie pragtige diere n tweede kans gekry ? Nee glad nie!!

SjN ·

Gee aan hulle borg op voorwaarde elkeen se hande word ook afgekap. Laat hul voel.

Chantal ·

NEE HULLE MOET DOODSTRAF KRY BRING DIT TERUG!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Manie ·

Hulle sal borgtog kry. Enige skelm in die land kry borgtog. Jy moet net nie die k woord gebruik dan sit jy en jy sal nie borgtog kry. Snaaks hoe verdraaid die reg in ons land geword het sedert die sogenaamde nuwe SA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.