Renosterstropery: 36 verdagtes in 3 weke vasgetrek

Argieffoto (Foto: Rhino Horn Auction)

Altesaam 36 verdagtes is die afgelope drie weke in Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Limpopo in hegtenis geneem in verband met aanklagte wat met renosterstropery verband hou.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê die inhegtenisnemings is deel van die Rhino 8-taakspan se meedoënlose pogings om renosterstropery landswyd, maar veral in die Krugerwildtuin en die Hluhluwe-wildsreservaat, hok te slaan.

Die verdagtes, almal tussen 22 en 40 jaar oud, is in Acornhoek, Calcutta, Hazyview, Elukwatini en Skhukuza in Mpumalanga, in Hluhluwe en Mtubatuba in KwaZulu-Natal en in Hoedspruit en Phalaborwa in Limpopo in hegtenis geneem. Daar is tydens die inhegtenisneming op vier voertuie, 12 ongelisensieerde vuurwapens, ʼn verskeidenheid ammunisie, knaldempers, ʼn ystersaag, byle, messe, 27 selfone, drie renosterhorings en ʼn olifanttand beslag gelê.

“Die meeste van die verdagtes het sedertdien in verskillende howe verskyn op aanklagte van onder meer jag van ʼn beskermde dierspesie, ontvoering, aanranding, onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, betreding en oortreding van die Wet op Immigrasie,” het Naidoo gesê.

“Ondanks talle inhegtenisnemings deur die Rhino 8-taakspan blyk daar ʼn groter volharding te wees by verdagtes wat renosters wil stroop. Ons hoop dat die inhegtenisneming van hierdie 36 verdagtes as ʼn waarskuwing en afskrikmiddel aan potensiële stropers sal dien,” het hy gesê.

Die Rhino 8-taakspan bestaan uit verteenwoordigers van ʼn verskeidenheid staatsentiteite, insluitend die SAPD, die weermag, doeane en aksyns en veldwagters van Ezemvelo en SANParke. “Hierdie span werk onverpoosd om die genadelose slagting en onthoring van renosters, asook die stroping van olifante stop te sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lorna Neveling Pfeiffer ·

hang…vang daardie stropers… dis moord!

Monica ·

Baie baie dankie vir wat julle vir ons rhino-8 wat julle vir ons doen om die gemors vas te trek hoor hoor hou so aan.

Monica ·

Ek se net dankie aan rhino-8 vir wat hulle vir ons doen en misdadigers sal nie huiwer om trug te skiet ek haal my hoed vir julle af julle is ons diere se praat werd nogmals dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.