Renosterstropery is buite beheer, sê DA

Argieffoto (Foto: Pete Ball/Pixabay)

Ezemvelo KZN Wildlife oorweeg nou aanvanklike voorstelle deur die Demokratiese Alliansie in ʼn poging om renosterstropery hok te slaan. Dit volg ná meer as twee jaar se ongekende slagting.

Geskrewe parlementêre vrae deur die DA het onthul hoe die KwaZulu-Natalse provinsiale raad nou ʼn rits misdaadbekamping- en teenrenosterstroperytegnieke sal oorweeg, sê Heinz de Boer, woordvoerder van die DA. “Die groot meerderheid van dié riglyne is herhaaldelik voorgehou by portefeuljekomitee- en wetgewervergaderings, en tog is dit tot dusver geïgnoreer. Dit sluit ʼn DA-voorstel in om ʼn multi-dissiplinêre teenstropery-taakspan aan te stel.”

Amptelike syfers het onthul dat 61 renosters tussen 1 Januarie en 25 Maart vanjaar van Ezemvelo-parke gestroop is. Nie-amptelik is dié syfer eintlik nader aan 80.

“Die statistieke is ʼn gruwelike scenario van voortgesette bloedvergieting in ons provinsie en alle tekens is daar dat vanjaar se syfers veel hoër sal wees as die 97 renosters wat in 2021 gestroop is.”

Die Ezemvelo-bestuur stel nou die volgende voor:

  • ʼn toename in veldwagter-kapasiteit;
  • die betrokkenheid van misdaadintelligensie en ander wetstoepasser-entiteite; en
  • om provinsiale prioriteitsmisdaadstrukture te laat herleef om intelligensie te verbeter.

“Hierdie reaksie is ʼn klap in die gesig vir die publiek en natuurbewaarders wat al jare lank die swak samewerking tussen verskeie wetstoepassingsagentskappe en Ezemvelo betreur,” sê De Boer. “Intussen word toegewyde misdaadintelligensiebeamptes – wat gewapende stropers aangekeer en geskiet het – geleidelik uit die SAPD gewerk terwyl ʼn elektroniese teenstropery-sentrum in die Hluhluwe-Mfolozi-park grootliks disfunksioneel is.”

De Boer meen die enigste positiewe punt oor die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake is die erkenning dat die versuim om kritieke vakante poste te vul ʼn bydrae gelewer het tot die krisis.

“Ravi Pillay, LUR vir die departement, moet nou vinnig begrotingsingrypings bekendmaak om nie net die vakante poste te vul nie, maar ook bewaarders en bestaande personeellede behoorlik toe te rus. Die huidige begroting doen eenvoudig nie genoeg om dié spesie te red nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Christine ·

Dit is betreurenswaardig dat na al die tyd van renosterstopery, dat die staat steeds nie proaktief optree nie, strategiese poste nie gevul word nie en maatreëls nie nagekom word nie. Is dit bloot onkunde of doelbewus? Ek dink iemand iewers in die regering kry ‘n groot cut uit die stropery. Follow the money.

Pietertjie ·

Daar is hope en hope dinge buite beheer. Renosterstropery is maar één aspek. Fiskus-stropery is nog een. Nie-roerende bates is nog een. Algemene moraliteit is nog een.. Die lys is lank.

Hannes ·

Al wat onder beheer is in Suid Afrika is “free” grants, verder is die meeste sake buite beheer.

Frank John ·

Net mense sonder toekoms visie gee nie ‘n vlenter om nie. Veral nie as hulle met die hand in die mantjie staan nie. LUST for money…. Root of ALL evil geld is nie die probleem nie maar daai LUST daarvoor. Kry nooit genoeg nie al gee jy hulle meer as wat nodig is sal hulle net meer wil hê.

Pieter ·

Meer veldwagters is nie die oplossing nie, hulle is dikwels deel van die probleem. Onlangs weer in Skukuza bewys. Oplossing is #ANCmustfall.

Jacob ·

Privaatbesit van renosters is nou die enigste hoop vir die voortbestaan van die spesie en tog word renostereienaars amper deur die bank kasty deur NROs (nie-regerings-organisasies) wat onder die dekmantel van bewaring, hulle sakke vol geld stop. Die NROs kan by mense soos Mnr John Hume leer hoe om renosters te bewaar en hulle getalle te laat toeneem, maar ‘n jong dame van Briste afkoms wat vir ‘n klompie maande “navorsing” oor swart renosters gedoen het, is nou die renoster spesialis van ‘n welbekende wereld wildelewe fonds. Sy het niks gedoen om die stroping van renosters te bekamp nie terwyl Mnr Hume in die tydperk waarin sy die “renoster spesialis” was, die getalle van sy renosters verdubbel het.

Moontlik moet ons ons nasionale en provinsiale parke se bestuur aan privaat persone toevertrou en alle NROs deur ‘n siftingsproses sit om te bepaal wie werklik ‘n bydrae tot bewaring lewer en wie net nuwe luukse huise en voertuie wil koop.

jzjz05 ·

Stem ,maar die mense wat dit weet onkèn en probeer ons gerus stel ,met die “,ons is besig om die oorlog met die stroopers te wen “, terwyl die renosters geslag word en hulle getale krieties. verminder,

Waarnemer ·

#ANCmustfall….Hoe gouer ALLE inwoners van ons mooi land dit besef,hoe vinniger gaan hierdie land weer tot sy reg kom.

Nie Verbaas ·

Snaaks dat daar nie geld is vir bewaring nie maar Ramaphosa laat toe dat amper R2 miljard aan funksies en verblyf bestee word deur ons agbare ministers en hulle onbekwame departemente. Solank die klomp kan party en suip is alles fyn in die land.

Thelsa ·

Alles is buite beheer in hierdie ou landjie. Alles word kaal gestroop voor ons oë en ons beskik nie oor die vermoë om die golf op golf te stuit nie. Hartseer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.