Renosterstropery neem verder af in 2019

Foto: Alita Steenkamp

Die getal renosters wat verlede jaar vir hul horings in Suid-Afrika gestroop is, het met bykans 200 afgeneem teenoor 2018. Dit is boonop die helfte minder as die getal renosters wat in 2014 vir hul horings doodgemaak is.

Volgens die regering neem dié syfers die afgelope vyf jaar jaarliks af vanweë die volgehoue toegewydheid om renosterstropery hok te slaan.

Tog is bykans 600 renosters steeds in 2019 deur stropers afgemaai, die meeste daarvan in die Krugerwildtuin.

In 2019 is 594 renosters landswyd gestroop, teenoor die 769 in 2018. In 2014 is ʼn totaal van 1 215 renosters in Suid-Afrika gestroop.

Afgesien van die 327 voorvalle in die Krugerwildtuin was die meeste gevalle van stroping in KwaZulu-Natal (133), elders in Limpopo (45) en elders in Mpumalanga (34). In Noordwes is 32 renosters verlede jaar gestroop. Geen stroping het in die Wes-Kaap plaasgevind nie. Dít ten spyte van 2 014 stropingsaktiwiteite die afgelope jaar.

Vermeende renosterstropers vas. Argieffoto: Verskaf

“Die afname in stroping in vyf opeenvolgende jare is ʼn aanduiding van die toegewyde werk van mans en vroue wat hul lewens daagliks waag om renosterstroping te bekamp en dikwels in direkte kontak met hartelose stropers kom,” sê Barbara Creecy, minister van omgewing, bosbou en visserye. Sy sê die inspan van tegnologie, verbeterde kommunikasie tussen wetstoepassers en die betekenisvolle bydrae van die private sektor het alles bygedra tot ʼn afname in renosterstropery.

Die minister het ook gesê dat 31 olifante die afgelope jaar in Suid-Afrika gestroop is – 30 in die Krugerwildtuin en een in die Mapungubwe Nasionale Park in Limpopo. Dit is ook ʼn afname van die 71 olifante wat in 2018 landswyd gestroop is.

“Ons het ook ʼn aantal suksesse behaal met die vastrek van stropers en die hokslaan van onwettige handel in renosterhoring,” sê Creecy. Tussen 1 Januarie en 31 Desember 2019 is 332 vermeende stropers in hegtenis geneem waarvan 178 in die Krugerwildtuin aangekeer is. Altesaam 85 vuurwapens is ook deur die polisie afgeneem.

In dieselfde tydperk is 145 verdagtes skuldig bevind aan renosterstropery of die onwettige handel in renosterhoring. In meeste van dié gevalle (75) het beskuldigdes tussen twee en vyf jaar tronkstraf gekry. In ses van die gevalle is stropers meer as 15 jaar tronkstraf opgelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MUIS ·

Natuurlik gaan die stropery van ons renosters afneem, daar is dan skaars renosters oor om te stroop.

Kirst ·

Ek wil niks wegneem van die mans, vroue en honde wat die gevaarlike werk doen om ons natuurlewe te probeer beskerm nie, maar hoe meer renosters gestroop word – hoe minder bly daar oor om te stroop en hoe moeiliker raak dit om die oorblywendes op te spoor want die digtheid neem af. Sover ek weet stroop hulle lankal jaarliks meer as die aanwas in die Kruger wildtuin.

ameli ·

Muis jy is heeltemal reg, daar is nie meer baie oor nie, nou vertel hul dit het afgeneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.