‘Renosterstropery-sindikaatleier’ se swaer deur FBI, Interpol gesoek

Die tien verdagtes tydens hul eerste hofverskyning. Foto: @LielaMagnus op Twitter.

Die tien verdagtes tydens hul eerste hofverskyning. Foto: @LielaMagnus op Twitter.

Abraham Smit, swaer van die beweerde renosterstropery-sindikaatleier Hugo Ras, is al vir langer as drie jaar voortvlugtig en word deur Interpol en die FBI gesoek, berig die Daily News.

Smit het die Amerikaner Jackie Atkinson glo uit $600 000 (of nagenoeg R6,8 miljoen) bedrieg. Smit het glo versuim om by die hof op te daag waarna die hoërhof van Kalifornië glo ʼn verstekvonnis teen hom uitgereik het. Die regter het ook ʼn lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik.

Gina Swankie, ʼn agent by die Amerikaanse federale ondersoekburo (FBI), het aan die Daily News gesê dat Smit gevlug het van kriminele vervolging en gesoek word op ses aanklagte van bedrog.

The Citizen het berig dat Smit (36), beter bekend as Arno, saam met drie ander verdagtes Vrydag borg geweier is in die Pretoria-landdroshof. Smit staan tans saam met nege ander verdagtes tereg op aanklagte wat verband hou met ʼn renosterstropery-sindikaat. Smit, Ras se vrou Trudie, Bonnie Steyn en Willem van Jaarsveld is almal Vrydag borg geweier deur hooflanddros Desmond Nair. Volgens The Citizen het Nair gesê die staat het ʼn baie sterk saak teen die verdagtes.

Die Valke het die tien verdagtes op 19 September in hegtenis geneem. Ras, wat glo die sindikaat se aktiwiteite vir sowat vyf jaar lank bestuur het, is by die Pretoria-Noord-landdroshof in hegtenis geneem waar hy op ʼn afsonderlike klag sou verskyn het. Die ander verdagtes is dieselfde tyd in Polokwane in Limpopo, Ficksburg in die Vrystaat, Potchefstroom in Noordwes en in Montana, Mamelodi en Kameeldrift in Gauteng in hegtenis geneem.

Die sindikaat was hoofsaaklik in Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, Gauteng en KwaZulu-Natal aktief. Die verdagtes word daarvan beskuldig dat hulle betrokke was by die stroop van 22 renosters tussen 2008 en 2012. Die sindikaat het glo 84 renosterhorings bekom en 22 renosters doodgemaak ter waarde van nagenoeg R22 miljoen, het die Valke vroeër gesê.

Kliek hier vir vorige berigte oor dié saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.