Renosterstropery: Taakspan keer 12 aan

Argieffoto Foto: Andrew Taylor, ScienceLine

Argieffoto Foto: Andrew Taylor, ScienceLine

Beamptes van die polisie se Operation Rhino 7-taakspan in Mpumalanga het die afgelope twee weke 12 verdagtes in hegtenis geneem vir oortredings wat verband hou met renosterstropery.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê die verdagtes, tussen 22 en 35 jaar oud, is tydens voortdurende operasies in en om die Krugerwildtuin in Skukuza, Acornhoek en Hazyview aangekeer.

“Die polisie het tydens die inhegtenisnemings beslag gelê op ʼn .375- en .306-jaggeweer, ʼn rewolwer, ammunisie, twee vermeende gesteelde voertuie en ʼn byl,” het Naidoo gesê.

“Die gewere en rewolwer se reeksnommers is afgevyl. Die vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit met ander misdrywe verbind kan word. Die byl sal vir forensiese kenners gestuur word om vas te stel of dit gebruik is in stropery-voorvalle.”

Die verdagtes word aangekla van die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie, die besit van vermeende gesteelde voertuie, betreding in ʼn wildtuin en die besit van ʼn gevaarlike wapen.

Frans Mfuku, Kelemi Mbombi en Buja Mashele, al drie van Mosambiek, het op 31 Januarie in die Skukuza-landdroshof verskyn. Hul saak is tot 22 Februarie uitgestel.

Anton Sadam Mthombothi, Erick Vukeya, Bongani Mdluli en Hendric Gwebu, almal Suid-Afrikaners, het op 6 Februarie vlugtig in die Acornhoek-landdroshof verskyn en die saak is tot 10 Februarie uitgestel.

Bruce Mpofu, ʼn Zimbabwiër, en Thembelani Ndlovu, Nobuhle Xaba, Amanda Dlamini en Sandile Ntuli, Suid-Afrikaners, het op 6 Februarie in die Witrivier-landdroshof verskyn. Die saak is tot 16 Februarie uitgestel.

Al die sake is uitgestel vir formele borgtogaansoeke en om die woonadresse van die verdagtes vas te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie ·

Wat gebeur met renosterstropers wat gevang word? Word hulle skuldig gevind? Hoeveel indien enige, sit huidig in die tronk? Kan Maroela nie ‘ n slag daaroor berig nie? ‘ n Paar jaar gelede was ‘n groot groep Blankes onder andere bekendes in wildkringe gevang, sit hulle in die tronk of het hulle weer met ‘n slenter losgekom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.