Rentekoers al groter las op verbruikers

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Die jongste rentekoersverhoging was dalk nie vir Suid-Afrikaners ʼn verrassing nie, maar het nietemin ernstige nagevolge.

“Dit is baie om in te neem, bo en behalwe ’n 30%‑jaar-tot-jaar-verhoging in brandstofpryse, voedselpryse wat deur die dak skiet én elektrisiteitskoste wat styg namate kragonderbrekings voortgaan om produksie te knou,” sê Joff van Reenen, direkteur van die spesialis-eiendomsagentskap High Street Auctions.

Die repokoers staan nou op 4,75% nadat die Reserwebank Donderdag ʼn rentekoersverhoging van 50 basispunte aangekondig het. Die repokoers is die koers waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke leen en beteken dat Suid-Afrikaners meer rente op hul lenings sal betaal.

Van Reenen wys nou daarop dat die gemiddelde Suid-Afrikaner nie enige loonverhogings ontvang om tred te kan hou met die alewige prysstygings nie, wat beteken dat hulle al meer skuld aangaan.

“Dit is ’n bose kringloop.”

Die jongste rentekoersverhoging is die grootste sedert begin 2016, met nóg ʼn verhoging wat in Julie verwag word.

Abigail Moyo, woordvoerder van die vakbond Uasa, sê die jongste verhoging in die repokoers, saam met ’n verbruikersprysinflasie van 5,9% en die verwagte brandstofverhogings in Junie, gaan die gemiddelde werker hard tref.

Pensionarisse sal egter iets hê om oor te glimlag namate hul aftreebeleggings groei. Beleggers kry hoër opbrengste met ʼn verhoogde repokoers.

En eiendom?

(Argieffoto: pixabay)

Van Reenen meen Suid-Afrika loop ’n wesenlike gevaar dat die reeks onlangse rentekoersverhogings – terwyl dit van ’n baie lae basis af kom – die eiendomsmark sal knou.

“Eiendom is tans een van Suid-Afrika se sterkste sektore, wat die ekonomie stimuleer en miljarde vir die fiskus genereer.

“Soveel as wat die Reserwebank die geldeenheid moet beskerm, moet hy ook omsien na sektore wat die ekonomie dryf en omsien na sy burgers, wat regte het. Dit sluit in kos en skuiling. Dit is nie die regering se plek om mense van daardie regte te ontneem met oorweldigende ekonomiese druk nie.”

Maroela Media het vroeër berig kosmandjies was verlede maand nóg duurder met brandstof wat nou byna ’n derde duurder as ’n jaar gelede is.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het vroeër vandeesweek gewaarsku dat hoër rentekoerse nié die wêreld se olie laat vloei, vrede in Oekraïne bewerkstellig of die VSA se monetêre beleid verander nie.

“Verbruikers is onder ongelooflike druk en enige poging om iets daaraan te doen deur rentekoerse te verhoog, sal sake net vererger,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Manie ·

Jan Alleman se inflasie is nader aan 12% en dus 6.1 % hoër as wat SSA se 5.9% aandui. Indien hy/sy gelukkig is om ‘n 6% verhoging te ontvang, is hy/sy nog steeds 6% swakker daaraan toe. Voeg die stygende rentekoers vir mense met huis/motor verbande/lenings, jaarlikse premie stygings in versekering, ens daarby en die situasie verander drasties. Ek weet nie hoe Jan Alleman met huis/motor skuld dit regkry om kop bo water te hou nie, ek haal my hoed af vir hulle.

Bart-Man ·

Ons gaan nou moet opdok vir die laaste 2 jaar, verwag maar nog vêrdere verhogings.

Herman L ·

As Jan Alleman nie kan byhou nie, wat van mense wat van rente afhanklik is vir lewenskoste? Om te sê dat rente koerse nou styg is goed en wel, maar as jy die afgelope twee jaar kapitaal moes gebruik om kos te koop, help die styging in rentekoerse min.

Manie ·

Ek weet nie van 1 belegging wat die werklike inflasiekoers klop nie. ‘n Familielid van my het in Desember R250 000.00 by ‘n bekende bank belê en nogal in ‘n lae risiko fonds. Verlede week het dit op R241 000.00 gestaan, ‘n hele R9000 .00 in 4 maande verloor en die bank reken dis die skommelende markte weens die oorlog.

Pannies ·

Indien die rentekoers op beleggings laer is as die inflasiekoers, ontmoedig dit mense om te spaar.
Dit het ook nadelige gevolge op die langtermyn.
Die kapitaalbasis van afgetredenes erodeer en hul sal langer in die arbeidsmark moet bly, meer het ondersteuning nodig, ens.

JohanR ·

Kan ons nie almal ‘n R700000 motor kar gaan uittrek as die rente koers opgaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.