Rentekoerse waarskynlik onveranderd te midde van sukkelende ekonomie

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: ANA

Suid-Afrika se sentrale bank sal waarskynlik Donderdag rentekoerse onveranderd hou ondanks inflasiedruk wat grootliks spruit uit die swakker rand, gepaard met kommer oor die sukkelende ekonomie.

Die ekonomie het in ʼn tegniese resessie verval nadat die bruto binnelandse produk (BBP) met 0,7% gekrimp het in die tweede kwartaal, gevolg op ʼn inkrimping van 2,6% in die eerste drie maande van die jaar. Landbou, vervoer en handel is die drie sektore wat veral swaargekry het.

Dit plaas die Suid-Afrikaanse Reserwebank in ʼn moeilike posisie aangesien hy sy vyfde beleidsvergadering van die jaar vandeesweek sal hou teen die agtergrond van ʼn skerp daling van die rand sedert die vorige vergadering in Julie.

Die Reserwebank sal sy besluit oor die repokoers aan kommersiële banke later vandag bekendmaak. In Julie het die bank die repokoers onveranderd gehou op 6,5%, maar gewaarsku dat inflasiedruk toeneem.

Hoewel die meeste ekonomiese en finansiële markontleders verwag dat koerse onveranderd sal bly, meen sommige dit is nie onmoontlik dat dit kan styg nie gegewe die swakker rand, grootliks weens onrus in die globale markte wat aangevuur word deur die handelsoorlog, hoofsaaklik gefokus op China en die VSA.

Die rand het Donderdag verhandel teen R14,60 teen die Amerikaanse dollar, vergeleke met R13,30 op 19 Julie vanjaar toe die sentrale bank sy jongste rentekoers-aankondiging gemaak het.

“Oor die algemeen is die Reserwebank in ʼn baie onbenydenswaardige posisie,” sê Jameel Ahmad, globale hoof van valutastrategie en marknavorsing by FXTM.

“Eksterne onsekerheid het die rand die slagoffer gelaat van ʼn aansienlike tydperk van markswakheid wat die Reserwebank onder druk plaas om in die voetspore te volg van die Sentrale Bank van Rusland en die Sentrale Bank van die Republiek van Turkye om vandeesmaand rentekoerse te verhoog ten einde die bedreiging van inflasie en verdere valutaswakheid vir hul onderskeie mark te verreken.”

Data van Statistieke Suid-Afrika (SSA) wat vandeesweek getoon het jaarlikse verbruikersinflasie het vertraag tot 4,9% in Augustus vanaf 5,1% in Julie, kan egter die Reserwebank ʼn effense blaaskans gee.

“Die uitwerking van hierdie nuwe inflasie-inligting sal ʼn belangrike oorweging vir die Reserwebank wees aangesien markte prys in verwagting van ʼn minstens 25 basispuntstyging vir korttermyn-koerse,” sê Luigi Marinus, portefeuljebestuurder by PPS Investments.

“Om die balans tussen inflasiebekommernisse, onlangse randswakheid, toenemende globale rentekoerse en die SA verbruiker, tans in ʼn tegniese resessie, te oorweeg sal die Reserwebank se besluit oor rentekoerse ʼn moeilike een maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marous ·

Entrepeneurs bedryf het egter ‘n ongekende ontploffing beleef ….danksy die spaar varkie wat egter nou heeltemal leeg is ,en nie eers ‘n speentjie oor het om aan te suig nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.