Rentekoersverlaging verwelkom, ‘maar ergste lê nog voor’

Dit is die vierde agtereenvolgende rentekoersverlaging. (Foto: Maroela Media)

Die vierde agtereenvolgende verlaging van die rentekoers is uit talle oorde verwelkom.

Die monetêrebeleidskomitee (MBK) het Donderdag die rentekoers met 25 basispunte verlaag tot 3,5% per jaar. Die algehele verlaging in die rentekoers vir 2020 staan nou op 3,25 persentasiepunte. Die prima rentekoers is tans 7%.

Die vakbond Uasa sê die landwye staat van afsondering het ʼn enorme finansiële uitwerking op miljoene werkers gehad en die jongste rentekoersverlaging gaan hopelik meer geld beskikbaar stel vir werkers om óf hul spaargeld aan te vul, óf hul skuld vinniger af te betaal.

“Die verlaging gaan werkers ook toelaat om meer aan goedere en dienste te bestee wat weer die ekonomie ʼn hupstoot gaan gee en die BBP help groei,” het Uasa gesê.

Die vakbond het egter ʼn beroep op sy lede gedoen om dit oordeelkundig te gebruik.

“Die moeilike tye wat ons nou ondervind, is nog lank nie verby nie en die beste ding wat mense nou kan doen, is om hulself teen finansiële ondergang te beskerm deur spaarsaam te leef en geld verstandig te bestee.”

Uasa sê ook hy besef daar kan kwalik van werkers verwag word om opgewonde te raak oor nóg ʼn oproep om hul beursies toe te knyp, maar dit is wel ʼn gulde geleentheid om van skuld ontslae te raak voor rentekoerse weer begin styg.

(Foto: pixabay)

Joff van Reenen, direkteur van die spesialis-eiendomsagentskap High Street Auctions, sê die jongste rentekoersverlaging was te wagte – en noodsaaklik – gegewe die houe wat die ekonomie in hierdie stadium verduur en nog vérder weens die uitwerking van die Covid-19-pandemie sal moet verduur.

“Die Reserwebank het die rentekoers vanjaar reeds met 275 basispunte verlaag om verligting te bied aan skuldbelaaide Suid-Afrikaners en die bykomende verlaging is ʼn stap in die regte rigting om likiditeit te verbeter omdat die ergste ongetwyfeld nog voorlê,” het Van Reenen gesê.

“Die Reserwebank se hersiene BBP-groeivooruitsig van 7,3% vir 2020 is ʼn aanduiding dat ons nog lank nie uit die moeilikheid is nie.

“Uit ʼn eiendomsperspektief gaan vier opeenvolgende rentekoersverlagings ʼn positiewe uitwerking op vertroue in vastebatebelegging hê omdat daar maar min veilige hawens in sulke onstuimige markte is. Met geen internasionale reëlboek vir pandemies nie, is eiendom nou selfs meer aanloklik,” het Van Reenen gesê.

Lew Geffen Sotheby’s International Realty se uitvoerende hoof, Yael Geffen, stem saam en sê die geskiedkundige lae uitleenkoers gaan die eiendomsmark oopstel vir ʼn groot getal eerste kopers wat nie vantevore hul eie huise sou kon bekostig nie.

“Dit is uiters goeie nuus en dit gaan momentum en vertroue bied op ʼn tydstip wat die land dit die nodigste het.”

Geffen verduidelik die jongste rentekoersverlaging vir verbruikers daal na 7%, ʼn bykans ongekende syfer. Dit beteken in praktyk ʼn maandelikse terugbetaling van minder as R7 800 op ʼn verband van R1 miljoen wat die skuif van huurder na huiseienaar veel makliker maak.

Sy sê dit is in hierdie stadium ʼn kopersmark in Suid-Afrika en nog ʼn rentekoersverlaging is net die aanmoediging wat die bedryf benodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Louis ·

Nou goed, nou is die paaiement op ‘n huislening van R 1 MILJOEN R 7 800-00. Wonderlik!!! nou word daar gekoop en raai wat? Oor 2 jaar van hier is die koerse terug waar dit was voor die Covid ellende. Die wiel draai altyd en ‘n baie betroubare ekonoom het dit ook klaar voorspel. Nie dat dit nodig is om ‘n ekonoom te wees nie, net gesonde verstand is daarvoor nodig. Daar word nou gese dis ‘n goeie tyd om te koop, wat se snert praat mense tog, ons weet almal dit is net ‘n verligting vir ‘n wyle. Dit sal mos nou nie die termyn of groot deel daarvan so bly nie.

Kiewiet ·

SO word die spyker op sy kop geslaan. Die elende sal net verdiep. Tot siens RSA hello Azanie.

Jackie ·

Hopelik styg jou inkomste oor n 2 jaar periode ook, en verhoog waarde van eiedom terug na waar dit voor covid was. Dit bly n goeie tyd om nou eiendom te koop mits dit in jou begroting pas. Hiper-versigtigheid is een van die oorsake dat baie oupas en oumas vandag gedeeltelik van kinders afhanklik is.

Francois Le Cochon ·

Hoe kan die verlaging verwelkom word? Daar gaan nou minder rente verdien word op beleggings en pensioenfondse. Meeste skuld wat mense het is omrede hul bo hul vermoens leef, om voor te gee hulle is skatryk, maar intussen het hul nie geld vir kos nie. Ek ken vele sulkes met veral 4×4 op skuld bakkies.

Erik ·

Wees slim… Ideale geleentheid om ekstra verband aan te gaan en dan die geld te gebruik om te emigreer.

Cherokee ·

Erik, geld is nie al wat nodig is om te emigreer. Toelatingsvereistes is ‘n belangriker faktor. Het jy al gekyk na masimum ouderdomme vir voornemende emigrante? Toegegee, daar is wel lande waar vereistes heelwat makliker is, maar dit is nie eerste wêreldlande nie. Miskien is Panama ‘n goeie alternatief.

Cherokee ·

Julle verstaan die opset verkeerd. Dit is nie nou ‘n goeie tyd om te koop vanweë verlaagde rentekoerse nie, maar omdat eiendomspryse konserwatief bereken word. Daar is eiendomme te koop vir minder as die werklike waarde. Indien die ekonomie hierna herstel, sal pryse weer styg.

Jerry ·

Ek stem nie saam nie, eiendomspryse gaan verseker nog verder val en die kans dat die ekonomie in die medium tot lang termyn herstel is nul!

Annette ·

Goed vir die wat daarby baat. Moenie nuwe skuld aangaan nie. Jammer vir pensioenarisse wat sukkel om kop bo water te hou.

Wielspore ·

Dit is nou die regte tyd om ‘n motor te koop want jy gaan die beste vasste rentekoer kry, dit verseker jou dieselfde paaiement vir die termyn van die ooreenkoms.
Lekker ry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.