Rentekoersverligting? Nog vasbyt lê waarskynlik voor

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Freepik)

Met inflasie wat tot die hoogste vlak in vier maande gestyg het, sal die rentekoers na verwagting onveranderd bly ná volgende week se tweede rentekoersaankondiging vir die jaar. Verbruikers sal dus waarskynlik langer moet vasbyt voor hulle lig aan die einde van die tonnel gaan sien.

Riaan Grobler, hoof van adviesdienste by Everest Wealth, waarsku dat inflasie wat bly styg en rentekoerse wat na verwagting langer onveranderd gaan bly, niks goeds vir verbruikers met skuld inhou nie.

“Daar is verwag dat die rentekoers in Mei kon begin verlaag. Dit kan moontlik verander indien inflasie aanhou styg en verder wegbeweeg van 4,5% waar die Reserwebank dit geanker wil sien.”

Die rentekoers sal na verwagting eers in die tweede helfte van die jaar, dalk eers in September, verlaag word nadat dit sedert November 2021 reeds met 475 basispunte gestyg en vir die afgelope maande onveranderd gebly het.

Inflasie het in Februarie tot 5,6% van Januarie se 5,3% en Desember se 5,1% toegeneem.

“Daar is verwag dat inflasie vanjaar verder sou verlangsaam, maar talle plaaslike en wêreldwye faktore blyk steeds risiko’s te skep wat inflasie hoog kan hou,” sê Grobler.

Die VSA se Federale Reserweraad het rentekoerse die week onveranderd gehou en daar word verwag dat die Europese Sentrale Bank (ESB) dieselfde in April gaan doen. Rentekoersverlagings is na verwagting dan eers teen Junie moontlik. Switserland se sentrale bank het dié week die eerste groot Westerse sentrale bank geword om rentekoerse te begin verlaag.

Verbruikers sal intussen steeds onder groot druk bly met minder besteebare inkomste, meer skuldafbetalings en stygende lewenskoste. Die gemiddelde salaris in die land verhoog ook nie teen dieselfde koers nie en is nie genoeg om inflasie teen te werk nie; Suid-Afrikaners word al hoe armer.

“Laer rentekoerse sal ongetwyfeld help om sake- en verbruikersvertroue te ondersteun en verbruikersbesteding aan te wakker. Suid-Afrika se logistieke beperkings, kragkrisis en water- en infrastruktuur-probleme hou egter steeds groot risiko’s in vir die ekonomie. Die komende verkiesing hou ook ʼn risiko in weens verskeie scenario’s wat kan voortspruit uit die uitslag daarvan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.