Replika van Grietjie bly nou op erfenisterrein

Die replika van Grietjie is vandag by die Voortrekkermonument afgevuur. (Foto: Verskaf)

Die Voortrekkermonument en die Bloedrivier-erfenisterrein het Maandag ʼn geskiedkundige skenking van die ZAR Kanonniersvereniging ontvang.

Ziets Fourie, die ondervoorsitter van die vereniging, het ʼn replika van een van dié bekendste kanonne in Suid-Afrika se geskiedenis, Grietjie, gemaak en aan die Bloedrivier-erfenisterrein geskenk.

Dié kanon is verlede jaar vir die eerste keer op 16 Desember by Bloedrivier in die walaer afgevuur.

Daarna het Fourie besef dit is waar die replika sy tuiste moet vind.

Grietjie het tydens die Groot Trek tot en met die Eerste Vryheidsoorlog in 1881 diens gedoen. Die oorspronklike kanon Grietjie was een van die kanonne wat in die bekendste veldslag, die Slag van Bloedrivier, aangewend is.

Wat Grietjie se geskiedenis nog meer besonders maak, is dat die Voortrekkerleier Sarel Cilliers bo-op Grietjie gestaan het en die Gelofte afgelê het voor die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838.

Daar is onduidelikheid oor die naam Grietjie se herkoms. Daar word bespiegel dat sy na die bekende Voortrekkerleier Piet Retief se dogter, Margaretha Magdalena, vernoem is.

Ses kleiner kanonne is ook Maandag afgevuur as deel van ’n simboliese saluut voordat die replika van Grietjie haar stem by die Voortrekkermonument self dik gemaak het.

Fourie sê die Kanonniersvereniging het die loop van die vier-pond-kanon geskenk.

Ses kleiner kanonne is ook Maandag afgevuur as deel van ’n simboliese saluut. (Foto: Verskaf)

“Ek het die wa en alles gebou soos wat sy nou staan. Ek het aanvanklik ’n loop van hout gehad wat ek self gemaak het. Daarna het die Kanonniersvereniging ’n loop gehad wat geskenk is om die kanon klaar te maak. Die agterkant van die loop is ’n presiese replika van die ou Grietjie en die loop voor is effe smaller aan die buitekant as die oorspronklike.

“Nadat die kanon verlede jaar by Bloedrivier afgevuur is, het ek net besef die kanon het sy tuiste daar gevind. Dit is toe dat ek besluit die kanon is eintlik nou volksbesit en hy moet vir Bloedrivier geskenk word,” sê Fourie.

Dr. Danie Langner, die besturende direkteur van die Voortrekkermonument en die Bloedrivier-erfenisterrein, het sy innige dank vir die onbaatsugtige skenking uitgespreek.

“Dit is wonderlik om te sien hoe erfenis bewaar word. Dit is bitter belangrik om ’n lewende erfenis te hê vir die nageslag en dit is presies wat die kanon verteenwoordig. Die ZAR Kanonniersvereniging gee vir ons erfenis betekenis en daarvoor kan ons nie genoeg dankie sê nie,” sê Langner.

Die kanon sal hierdie week na die Bloedrivier-erfenisterrein geneem word waar dit deur die publiek besigtig kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Toffie ·

Ek praat onder korreksie, maar soos ek verstaan is die oorspronklike kanon by die Voortrekkermonument.

Esme ·

Wonderlik. Vertel bietjie ons trotse geskiedenis. Ek het berge materiaal waarmee ek kan help.

Vrijburger ·

Wonder ek by myselwers of Grietjie se reikafstand tot by die Unie Gebou strek? :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.