Repokoers in betwiste besluit onveranderd gelaat

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank (Foto: Thobile Mathonsi/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se monetêrebeleidskomitee het Donderdag die repokoers onveranderd op 6,75% gelaat. Dié besluit was egter nie eenparig nie.

Die komitee het wel die land se ekonomiese vooruitsig afwaarts aangepas, en verwag nou ʼn BBP-groei van gemiddeld 1% vir 2019, ʼn afwaartse aanpassing van die 1,3%-verwagting in Maart.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het die aankondiging vanmiddag tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria gedoen. Kganyago het gesê drie lede van die komitee het verkies om die repokoers onveranderd te laat, terwyl twee lede verkies het om dit met 25 basispunte te verlaag.

Die Reserwebank het in November die repokoers met 25 basispunte verhoog om inflasiedruk te stuit.

Kganyago het gesê hoofinflasie sal na verwagting gemiddeld 4,5% in 2019 wees, af van 4,8%. Dit sal in 2020 na verwagting tot 5,1% styg en in 2021 weer daal tot 4,6%.

Hy het gesê die vernaamste redes vir die vooruitsig is die laer beginpunt vir voedsel- en diensteinflasie, en die hersiene olieprysaannames. Voedselinflasie sal na verwagting gemiddeld 3,7% in 2019 bereik, ʼn afwaartse aanpassing van 4,1%.

“Die groeivooruitsig vir die onmiddellike termyn is beperk deur die groter as verwagte afplatting in die eerste kwartaal, swak sake- en verbruikersvertroue, asook toenemende druk op besteebare huishoudelike inkomste,” het Kganyago gesê.

Kganyago het verder gesê dat swak sakevertroue, moontlike elektrisiteitstekorte en die hoë skuldvlakke van staatsinstansies sal voortgaan om beleggingsvooruitsigte te beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vryheid ·

Die reserwebank neem korttermyn besluite wat langtermyn skade aan die ekonomie gaan rig. Is ons dan nie in n ressesie!

Stebastiaan ·

Wel dit is eintlik ‘n verligting na al die ander verhogings van brandstof ens. Wat al ingestel is.

Clipper ·

Ek wil graag hoër rentekoerse sien om my pensioen te laat groei, maar dou n verlaging nie die ekonomie gestimuleer het nie? Hierdie besluite is amper soos fie regering wat die petrolprys kunsmatig verhoog met allerhande premies terwyl die land kreun onder eskom en al die ander dramas

Gert van Wierdapark ·

Die vraag is al gevra = HOEKOM MOET die Reserwebank daai 3,5% rente op blanke hef, want dit is ONS as verbruikers wat daai geld betaal. Wat die die Reserwebank met al daai flippen geld, behalwe vet salarisse ens?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.