Repokoers, inflasie skep ‘perfekte storm’ in SA

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die nuus dat verbruikersinflasie in Januarie en Februarie onveranderd gebly het, bied skamele troos aan Suid-Afrikaanse verbruikers wat sukkel om by te hou met knaende prysstygings.

Ekonome verwag boonop dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank Donderdag ʼn verhoging in die repokoers gaan aankondig. Dit sal slegte nuus wees vir Suid-Afrikaners wat skuld het om te delg.

Die repokoers is die koers waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke leen en bepaal die koers waarteen rente op lenings betaal moet word. Beleggers kry egter hoër opbrengste met ʼn verhoogde repokoers.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die vooruitsig dat rentekoerse tydens die Monetêre Beleidskomitee (MBK) se aankondiging later vandag verhoog gaan word, is hoogs kommerwekkend en onregverdigbaar.

“Dit is kortsigtig en onverantwoordelik om rentekoerse net lukraak op te stoot in ʼn poging om inflasie af te weer.

“Sodanige aanwending van rentekoerse is meer toepaslik in groeiende ekonomieë en daar waar inflasie die gevolg van ʼn oormaat-vraag in die ekonomie is,” meen Du Buisson. “Hoër rentekoerse sorg egter steeds vir minder kapitaal in die mark en belemmer belegging in die ekonomie. ʼn Rentekoersaanpassing sal daarom verdere groei inperk en ons vir veel langer veel armer hou as wat nodig is.”

Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa, sê dié vakbond hoop dat die Reserwebank die tariewe redelik sal hou veral in die lig van die voortslepende oorlog in Oekraïne en die prysstygings wat onvermydelik gaan volg.

“Stygende voedsel- en brandstofpryse word ʼn nagmerrie vir werkers wat reeds gebuk gaan weens finansiële druk.”

Du Buisson glo verdere druk op Suid-Afrikaners sal rampspoedige gevolge inhou.

Hy wys daarop dat die meeste Suid-Afrikaners se salarisse reeds aan die begin van die jaar aangepas is.

“Die hemelhoë inflasie wat ons tans sien is dus nie daarby ingereken nie. Boonop is die brandstofprysinflasie van 29,4% veel hoër as die algemene inflasie. Werknemers sukkel om kop bo water te hou want hulle verloor maandeliks net al hoe meer koopkrag.”

Maroela Media het vroeër berig verbruikersinflasie het in Januarie en Februarie onveranderd op 5,7% gebly, maar die verbruikersprysindeks (VPI) het in dié tydperk met 0,6% gestyg.

Brandstofpryse het in Februarie met 2,9% gestyg terwyl die prys van brood, meel en vis ook opgeskiet het.

“Selfs ná verhogings hou salarisse net nie tred met inflasie nie en ʼn mens koop al hoe minder [met dieselfde geld], selfs al verdien jy ʼn bietjie meer. Wat dan van diegene wat geen verhoging ontvang het nie of huishoudings waar een van die broodwinners sy of haar werk verloor het?” wil Du Buisson nou weet.

Du Buisson voer nou aan dat die jongste inflasiesyfers juis die meriete en dringendheid van Solidariteit se eis dat brandstofpryse in die geheel aan die mark oorgelaat en gedereguleer word, duidelik bevestig.

“Feitlik al die grootste prysstygings in die jongste VPI-aankondiging vind onder gereguleerde geadministreerde pryse plaas wat teen ʼn skokkende 16,7% gestyg het teenoor algemene inflasie van 5,7%.

“Kortom, waar die regering betrokke is, strek dit tot almal se absolute nadeel. Die verbreking van die regering se wurggreep op die ekonomie is nie meer net nie wenslik nie, maar het gebiedend noodsaaklik geword. Die regering se onbevoegdheid het nou weliswaar onbekostigbaar geword,” sê Du Buisson.

Solidariteit doen ʼn beroep op die Reserwebank om nie rentekoerse tydens vandeesweek se aankondiging te verhoog nie.

“Verbruikers word tans deur die perfekte storm in die gesig gestaar wat hul begrotings uiters negatief beïnvloed. Dit moet onmiddellik in sy spore gestuit word en die deregulering van alle brandstofpryse, sowel as ʼn onveranderde of selfs ʼn verlaagde rentekoers sal ʼn goeie beginpunt wees,” sê Du Buisson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

domheks ·

Regering gee nie ‘n duit om nie! Hulle kry astronomiese verhoogings want hulle leef te hoog, en doen niks om die salaris te verdien nie!

Alida ·

Elke munt het twee kante. Mense wat verantwoordelik leef, sonder krediekaarte en ander skuld, en wat oor die jare ‘n geldjie kon wegsit, hoop en bid weer vir ‘n rentekoersverhoging sodat die verhoogde rente wat met hulle spaargeldjies verdien word, kan vergoed vir die stygende pryse as gevolg van inflasie.

Jsgroen ·

Nie almal het ryk geërf en moes maar huislenings aangegaan het om ‘n huis te kry. Baie het hulle werk verloor en wat nou gemaak waar die huisverband hoër geword het as die rente wat jy op jou belegging verdien? Dink aan mense in sulke situasies.

Duck ·

Ek het ook met die Covid pandemie soos der duisende daar buite, baie geld verloor elke maand omdat die koers so laag gedaal het. Ek is ook jammer vir die manne met die skuld maar iewers moet ons èrens kom waar ons was. So ek sien uit na ‘n ou bietjie meer rente ‘n maand. Soos hul in Engels sè: “you must be cruel to be kind” Jammer mense…

Voilet ·

Jy kry nie meer salaris verhogings nie. As jy doen is jy gelukkig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.