Reservaat “moes” seekoei skiet

Lake Heritage. Foto: Heia Safari Ranch

Lake Heritage. Foto: Heia Safari Ranch

Die  Heia Safari Ranch het gesê hulle moes ʼn seekoei in die Heritage Lake-dam van kant maak, aangesien seekoeie in die gebied ʼn bedreiging vir mense se lewens geword het.

Die wildsplaas is in die Wieg van die Mensdom in Muldersdrift in Gauteng geleë.

“Ongelukkig het die seekoeie in die omgewing oor die afgelope jaar ʼn bedreiging vir ons gaste en werknemers geword. Ons het al verskeie voorvalle gehad waar seekoeie ons werkers bestorm het,” het Gaby Burger, die wildsplaas se bestuurder, in ʼn verklaring gesê. “Dit het ons harte gebreek om die seekoei te skiet, maar mense se lewens moet eerste gestel word.”

Sy het gesê hulle het op ʼn kenner se advies reageer dat die betrokke seekoeie mense se lewens in gevaar stel en dat hulle die “uiters moeilike besluit” moes neem om dié risiko te voorkom.

Volgens Burger het die seekoei ʼn jaar gelede hom in ʼn groot dam op die reservaat tuisgemaak. Seekoeie het glo twee kere van tevore dit ook gedoen. “Ons het alles in ons vermoë gedoen om die seekoei te skuif, maar moes uiteindelik die seekoei van kant maak,” het sy bygevoeg. Tydens die vorige twee kere is die seekoeie deur professionele wildsvangers gevang en by Aloe Ridge vrygelaat.

Koos Dippenaar, ʼn wildskenner wat ook wilde diere hervestig, het gesê die probleem is nie uniek aan Heia Safari Ranch nie, en dat verkeie plekke in die Muldersdrift-omgewing oor die afgelope paar jaar soortgelyke probleme ervaar. “Seekoeie is in 1980 vir die eerste keer na die omgewing gebring, en daar is hoofsaaklik net manlike kalwers geteel, en daar is nou gevolglik ‘n oorbevolking van bulle in die gebied,” het Dippenaar gesê. Hy het gesê Muldersdrift is hoofsaaklik ʼn landelike gebied en nie ʼn bosveldgebied nie, en die gebied is te klein vir seekoeie. Die seekoeie raak ʼn probleem en hulle word immuun teen elektriese heinings.

“Ons het al verskeie kere probeer om die diere in te perk of te verdoof, maar dit was nie suksesvol nie,” het Dippenaar bygevoeg. “Hervestiging is soms ook nie ʼn moontlikheid nie, aangesien dit moeilik is om die diere te vang as hulle in ʼn rivier of ʼn groot dam is. Om ʼn dier van kant te maak is altyd die laaste uitweg as ons hulle nie kan vang nie.”

Burger het gesê die besluit om die seekoei te skiet is nie oorhaastig geneem nie. Hulle het in samewerking met Dippenaar die afgelope jaar verskeie pogings en oplossings gesoek om die dier geskuif te kry. “Weens die grootte van die dam was alle pogings om die seekoeie te vang en te skuif vrugteloos,” het Burger bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.