Reservaat sê jammer oor ‘traumatiese voorval’

Argieffoto: Pixabay

Die Balule-natuurreservaat in Limpopo het om verskoning gevra vir die “hartverskeurende en traumatiese voorval” wat besoekers moes aanskou toe ʼn olifant naby die lodge op die reservaat deur jagters doodgeskiet is.

Die voorval het Vrydag in die Maseke-wildreservaat gebeur wat deel vorm van die groter Balule-natuurreservaat. Balule is deel van die groter Kruger Nasionale Park.

Volgens ʼn verklaring wat deur die bestuur van Balule uitgereik is, is die olifant ongeveer 800 m ver van die lodge gejag en kon besoekers sien hoe die olifant verskeie skote toegedien is voordat hy uiteindelik geval het.

Vier mense op die lodge se besigtigingsdek het die voorval sien gebeur. Luidens die verklaring het die bestuur van die reservaat onmiddellik gereageer toe die voorval onder hul aandag gebring is.

“Daar was vier ooggetuies en verklarings is by hulle afgeneem. In teenstelling met berigte in die media is daar geen bewerings of bewyse dat die jagters alkohol gebruik het voordat die jagvoorval plaasgevind het nie,” lui die verklaring.

“Ons het ʼn verklaring van ʼn onafhanklike waarnemer wat op die toneel was kort ná die voorval wat onder eed getuig het dat almal in die jaggeselskap heeltemal nugter was. Die jag was wettig en ons het die al die permitte van die jagters geverifieer.”

Die Balule-bestuur sê egter die weergawes van die ooggetuies dui daarop dat die voorval nie voldoen het aan die volhoubare benuttingsmodel van etiese jag van jagprotokol waaronder alle reservate binne die Vereniging van Private Natuurreservate (APNR) val nie.

“Ons is tans besig met ʼn in-diepte interne ondersoek na die voorval en sal terugvoer gee sodra hierdie proses afgehandel is. Indien die ondersoek dui op onetiese gedrag of gedrag in teenstelling met die vasgestelde protokol, sal die gepaste dissiplinêre stappe gedoen word.”

Die bestuur sê daar word tans gewag op korrespondensie en verklarings van ʼn verteenwoordiger van die Maseke-wildreservaat.

“Die afgelope paar maande was baie moeilik vir ons, met ʼn onlangse onwettige olifantjag wat op Balule plaasgevind het en daartoe gelei het dat ʼn bewaarder skuldig bevind is. Ons wil graag beklemtoon dat ons toegewyd is daaraan om op ʼn etiese en deursigtige manier ons bedrywighede te doen.”

Glenn Phillips, bestuurder by SANParke, het in ʼn verklaring bevestig dat die voorval by Balule onder die bestuur van die Kruger Nasionale Park se aandag gebring is. “Die Krugerwildtuin wil die reservaat loof dat hulle onmiddellik stappe gedoen het om die saak te ondersoek en vir hul toewyding om te verseker dat daar aan al die wetlike en etiese vereistes voldoen is,” sê Phillips.

Hy het bygevoeg die manier waarop Balule die voorval hanteer, is ʼn bewys van die bestuur se toewyding om seker te maak dat sy lede aan al die nodige vereistes voldoen. “Ongelukkig, soos altyd die geval is, vat dit net een individu of organisasie om die goeie naam van hierdie reservate deur die modder te sleep.”

Phillips het gesê daar word gewag op die uitslae van die interne ondersoek voordat daar op die pad vorentoe besluit sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

48 Kommentare

Marius ·

Ek kan nie rede sien hoekom olifante gejag word nie. Ek dink Sanparke moet Balule afsny van hul area.

ZAR ·

Marius, daar is verskeie redes. Siekte, ouderdom, uitdunning, ens. Dit moet gebeur om die parke gesond te hou. En dis ook ‘n goeie manier om dan geld te maak uit die noodsaak deur jagters die geleentheid te gee om daarvoor te betaal. Dis ‘n wen wen situasie,want die geld word weer gebruik om optimaal na die wild om te sien.

Robert ·

Marius, jy is oningelig en daarom kan jy nie rede sien nie. Wanneer laas was jy in die Kruger Park? Omdat daar te veel olifante is, is dele vd wildtuin reeds so opgevoeter dat ander wildsoorte daar onder ly. Lees bietjie op wat daar aangaan. Lees asb gerespekteurde wildbewaarders se artikels.

Robert ·

Marius, jy is oningelig en daarom kan jy nie rede sien nie. Wanneer laas was jy in die Kruger Park? Omdat daar te veel olifante is, is dele vd wildtuin reeds so opgevoeter dat ander wildsoorte daar onder ly. Lees bietjie op wat daar aangaan. Lees asb gerespekteerde wildbewaarders se artikels.

Neels Marais ·

Afskuwelik!!
Jy gaan om wild te besigtig, dan word die wild dood geskiet en dit in ‘n wildreservaat. Ek kan dit nie glo nie en dan sê die bestuur die jag was “wettig”. So ver my kennis strek is ‘n wildreservaat ‘n plek waar jy diere gaan besigtig, nie dood skiet nie. Ek sou my geld net daar teruggevat het.

Sê maar net ·

Jag is wanneer alles wettig geskied. Alles eties geskied. Wanneer die persoon betaal vir wat hy skiet en dit benut. Wanner hy weet hoe om te skiet. Wanneer die persoon lief is vir die natuur en selfs ook hartseer is wanneer hy die dier geskiet het. Dit is jag.

Daar is nie so iets soos onwettig jag nie – dis sommer net stroop. Ek wens regtig mense wil die onderskeid begin tref.
Dit gee alle jagters ‘n slegte naam.
Iemand wat strikke stel, ‘n dier vermink of op enige manier onwettig grond betree en nie betaal nie, oneties optree – dit is stroop.

Barry ·

In die lewe kan ek nie verstaan hoekom jy iets wil skiet wat jy nie kan eet nie… Verder kan ek nie verstaan hoe enige “reservaat” of jag operateur met so iets aanmoedig of met so iets geassosieer wil word nie

HPV ·

Barry jy is so reg! Dieselfde vrae het ek al baie gevra. Maar as jy dan vir enige rede so dier moet jag, doen dit dan met ‘n swaarkaliber jaggeweer in die hande van iemand wat KAN skiet onder toesig van ‘n bevoegde operateur.

Want Sommer ·

Dis maklik. Die mense wat die reservaat bestuur weet presies hoeveel olifante geskrik is in n area. Olifante het amper geen natuurlike vyand nie. As hulle nie uitgedun word nie sal dit die hele ekosisteem beinvloed. Die vleis word dan ook gewoonlik aan die naby gelee mense geskenk. Dit was wel lekker stupid en onverantwoordelik om dit so naby aan n lodge te doen.

Greenie of nie ·

Theresa jy besef dat daar n oorbevolking van oliefante is in ons parke ? en hulle saai verwoesting .

Gert van Wierdapark ·

Natuurlik het die mense wat ontsteld en getraumatiseer was deur die sogenaamde jagters se optrede hulle seker vergis van wat gebeur het! In SA is dit mos as n gewoonte om dinge toe te smeer/onder die mat in te vee totdat dit n berg word. Moenie net goedsmoeds die verskoning/verduideliking aanvaar nie. Krap dieper en kry die name van die nugter jagters en publiseer dit asb, of gee vir die diere ook wapens om terug te kan skiet.

Karolis ·

Daar is ‘n oorbevolkingsprobleem van verskeie diere in ons land.

Mrs H ·

Hahaha!!! Baie skerp en waar ja! Geen Olifant saai verwoesting en is só oorbevolk soos dié waarna jy verwys.

sus ·

Permit of nie permit nie!!!!! Hoe skiet jy ‘n olifant???? Ons wild word net voor die voet geskiet en uitgemoor deur stropers en julle kry nog permitte ook om die uitwissing aan te help!

Johan ·

Sus, om jou vraag te beantwoord oor “hoe skiet jy ‘n olifant? Die antwoord is redelik maklik, jy skiet hom met ‘n geweer.

liz ·

Green of nie – ek kan nog saamleef met die verwoestig wat die Olifante saai……..

Greenie of nie ·

Dan gee jy nie om as kameelperde sonder bome sit om van af te eet nie , ongelukkig moet die getalle beheer word .

Belinda Erasmus ·

Daar moet in die eerste plek nie gejag word in n natuur reservaat nie!!!!!

Daan Erasmus ·

Om te jag is deel van natuurbewaring. Net soos om ‘n skaap te slag deel is van volhoubare boerdery. Net soos mense doodgaan gaan diere ook dood. Om die dood te vervroeg deur jag maak jy ‘n paar rand om die natuur te bewaar.

Haas ·

Orite, nou kom ons los die reeds oorbevolkte Olifante soos hulle is, dat die bevolking net groter en groter word. Dan oor 20 jaar moet julle aan julle kinders verduidelik hoekom daar geen meer wild is a.g.v die Olifante wat verwoesting saai. Ek is vir die skiet en intoomhouding van die Olifantbevolking. Hulle kon dalk meer taktvol gewees het en dit nie naby akkommodasie plekke doen nie. Maar intoom, moet hulle gehou word.

MTSteyn ·

Interessante opmerking. Daar is tans net so oor die 7 en ‘n half biljoen mense op hierdie planeet; ordes meer as enige ander soogdier. Ons saai verwoesting teen ‘n tempo waar ons reeds al vir dekades lank na alternatiewe aardes soek vir oorlewing; die ingeligtes is dit eens dat hierdie aarde op sy einde is, nie agv van olifante nie, maar agv die groot verwoesteraar.

Johanna ·

Hoe AFSKUWELIK. Nou word daar omverskoning gevra. Mag julle die nagevolge hiervan deeglik kry. Dis God se Skepping hierdie. n Stomme onskuldige dier wat so verniel word. God moet ook baie hartseer voel hieroor. Kan n mens so GEVOELLOOS wees? Om dood te maak – dit wat nie kan praat nie. waarheen vir beskerming. HOEKOM???????

Daan Erasmus ·

Met die maat waarmee jy meet sal jy gemeet word. Moenie met ‘n skaap tjop in jou bord sit en kla dat diere wat God geskape het doodgemaak word nie. Of is alle diere wat God geskape het nie dieselfde nie?

Judge Dredd ·

Stem saam Greenie – mens kry ook net permit om die enkel lopende ou olifant bulle te skiet.
Tog sou ek se die jagters/toesigter moes hulself verwittig het van enige naby gelee lodges.

GRIET ·

DIT wás nou uiters onsensitief en nalatig om diereliefhebbers ñ JAG te laat aanskou,of dit nou wettig of onwettig was…
MAAAR…die blatante wrede MENSEjag in SA.en afmaai van boere is nou maar OK en kry GEEN AANDAG???

liz ·

Haaaa, haaaaaa Greenie of nie…… duidelik lees jy nie tussen die lyne nie, toe maar

Daan Erasmus ·

So die “oog getuienisse” het gelieg oor die jagters wat gedrink het. So die res van wat hul sê kan ook nie geglo word nie. Teen die prys van ‘n olifant kan ek aanneem die jagter was ‘n eerste keer olifant jagter. Dus nie ‘n ervare olifant jagter nie. Dan is dit verstaanbasrvdat hy/sy dalk nie die perfekte skoot geskiet het nie.

Jannie ·

As iemand wat in die verlede self reeds baie gejag het (vir vleis en biltong) skaam ek my dat daar altyd “trigger happy cowboys” deel van jag is!!! Swaar strawwe moet altyd hulle voorland wees!!!

Nora ·

Die oorbevolkingsprobleem is mense. Nie diere. Diere het nie meer plek om te beweeg. Dis die mens wat die natuur beskadig, verwoes, moor (vir die plesier , geld en eiegewin) onder die vaandel van bewaring . – Aikona.

Greenie of nie ·

Dan sal ons so 5 uit die 10 mense wat hier kommentaar gelewer het moet uitsit .

Ai tog ·

Ai tog! Dis hoe dit werk op ‘n wildsplaas/natuurreservaat. As ‘n dier oud/sieklik is dan skiet jy hom eerder. Voor hy van hongerte vrek of ly. Die geld word dan gebruik om ‘n jong/sterker dier te koop en so kom daar weer nuwe bloed en nuwe babas. Of die geld word gebruik om ander diere te beskerm en/of in die droë winter maande te voer. Dit is hoe bewaring werk. Dis hoekom olifante ook geskiet word. Die olifant se vleis word wel vir naby geleë tuislande gegee.

Greenie of nie ·

Sal graag wil hoor wat sou jul oplossing wees vir oliefant beheer?

ES ·

Ek stem dat daar verskeie redes vir die jag en uitdunning van olifante is, maar 800m vanaf die besigtigingsdek is darem maar bietjie naby…

Muriel ·

Wat ook al die rede, hierdie is so hartverskeurend en onsensitief om hom te skiet naby die lodge en besoekers te tramatiseer. Net om dit te lees het die trane laat loop, soos die olifant se familie ook oor hom sal treur.

Wynand ·

Sjoe jy moet darem fantastiese sig hê om op 800m presies te sien wat gebeur het. Selfs met n verkyker.

Daan Erasmus ·

Om bietjie af te dwaal. Wat jy sê van 800m. In die Karoo jag die manne op 800m. En toe my broer dit meet as 283m! Was hy ongewild.

Anneli ·

Soos ek van verskeie berigte verstaan was die olifant relatief jonk en nie siek nie.
Daar is ook berig dat daar 13 skote geskiet is en ek vra myself af watter tipe jagters hierdie mense is.
Daar is wel ‘n oorbevolking van olifante, maar dit moet op ‘wetenskaplike en profesionele wyse hanteer word. Nie ten aanskoue van toeriste nie en nie so wreed en onbeholpe nie.
As mens die privaat wildtuine besoek, moet mens daarvan bewus wees dat ‘n olifant wat nog lekker in die wildtuin loop, 100 meter oor die grens stap en dan kan hy geskiet word. Ek wonder hoeveel buitelandse toeriste is hiervan bewus? Of Suid Afrikaanse toeriste? Ek wonder ook of as toeriste dit besef hulle hierdie deel van die wildtuin sal besoek?
Ek weet verseker ek sal nie my voete daar sit nie!

Maria ·

Dis so onnodig… Die mense wat so maak moet ook gejag word en dood geskiet word soos die Olifante… Magtig man as jul moet uitdun vir watter rede ook al gee respek aan die dier wat goed genoeg was vir vele jare as trek pleister vir toeruste
… Nou kan jul daardie dier uitsit en so eer en respek gee aan n lewende wese….

Jan ·

Strooi hulle is nie jammer vir gaan dit oor geld en dit is al.

Rudolph ·

Hoekom word my feitelike kommentaar oor die lot van diere in aanhouding nie gepubliseer nie?

Sê ook ma net ·

Nou ja laat ek ook my eiertjie lê. Punt 1: As die mense dit nie wou sien nie vir wat staan hulle heeltyd en kyk? Punt 2: Moenie vir jou kom staan en slimhou as jy ook maar eintlik niks weet van natuurbewaring nie. Dis nie so maklik soos gooi die diertjies binne ‘n omheining en nou sorg alles vir hulleself nie. Punt 3: Hou op kerm oor God sê skepping en mense wat net skiet. Gaan maak ‘n draai by enige slagpale en kyk hoe word die bees/skaap/vark/hoender daar doodgemaak sodat jy jou vleis kan loop eet vandag. Dan kyk jy sommer ook wat is die ander diere se reaksie as die hulle die eerste bloed ruik. So tensy jy ‘n veganis is, bly maar stil oor God se skepping.

Oudste ·

Vir al die hasie soeners en boom klouers wat innige kommentaar lewer oor die gevoellose, wrede, narsisstiese,egosentriese, egoistiese, selfbehepte monsters wat dit durf waag om ‘n dier te skiet die volgende: Wanneer so ‘n dier op sy laaste is, gegewe ouderdom of uitdunning, kan jy gerus die olifant aan sy halsband vat en hom lei na die begraafplaas om sommer vanself om te kom. Sit dan by die olifant en fluister soete trooswoordjies in sy / haar oor totdat die laaste asem uitgeblaas word. Jy mag nie die dier enigiets aandoen nie, behalwe miskien dood praat. Stap uit in die tuin en ruik die rose, regtig! Hoe wil julle dit anders humaniter doen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.